Comrades volg virtuele roete; organiseerders skryf ope brief

Ter illustrasie. Foto: Twitter

In ’n ope brief aan alle Comrades-deelnemers het die voorsitter van die organiseringskomitee, Cheryl Winn, gesê dat die besluit om die ultramarathon te kanselleer nie ligtelik geneem is nie.

Die gewilde Comrades-marathon is amptelik weens die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer. Dit is die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat organiseerders genoop was om só ’n drastiese stap te neem.

Die organiseerders het vroeër, ten spyte van druk deur die regering en Atletiek Suid-Afrika, aangedui dat die wedloop nog soos beplan in Junie sou voortgaan. Die marathon is toe verlede maand amptelik uitgestel. Die doodsklok het egter verlede week finaal vir vanjaar se wedloop gelui.

“Ek wil weer – soos in my vorige boodskap – dit herhaal dat die gesondheid en welstand van die atlete en ander belanghebbendes ons hoofprioriteit is,” het Winn geskryf.

Toe die wedloop amptelik gekanselleer is, is ook gestipuleer hoe met die inskrywings wat reeds ontvang is te werk sou gaan: Suid-Afrikaanse atlete sou hul geskenkpakke en T-hemde ontvang, terwyl internasionale atlete die geleentheid sou kry om hul inskrywings na 2021 of 2022 te skuif.

“Soos reeds genoem het ons alreeds baie uitgawes aangegaan toe die wêreldwye Covid-19-pandemie ons getref het. Die uitgawes het onder andere die T-hemde en geskenkpakke ingesluit wat almal met die 2020-datumstempel daarop vervaardig is – hulle kon dus nie na 2021 oorgedra word nie. Die waarde van die items is meer as die inskrywingsgeld van R600 wat plaaslike atlete betaal het; hoewel dit nie ’n perfekte oplossing is nie, glo ons dat dit ’n regverdige een is.”

Hoewel die atlete ongelukkig nie hul inskrywingsgeld gaan terugkry nie, kan hulle onder andere voorkeur geniet wanneer inskrywings vir 2021 geopen word, of afslag op hul nuwe inskrywings kry.

“Ons is nie perfek nie, maar ons doen alles binne ons vermoë om die beste van ’n slegte situasie te maak. Ons werp alles in die stryd om ons geliefde wedloop vir die volgende 99 jaar suksesvol aan te bied.”

Winn het alle atlete aangemoedig om deel van die virtuele resies – Race the Comrades Legends – op 14 Junie te word.

Inskrywings is gratis vir alle Suid-Afrikaners wat vir die 2020-ultramarathon ingeskryf het en jy kan tussen wedlope van 5 km, 10 km, 21 km 45 km of 90 km kies.

“Soos altyd sal ons verwag dat ons atlete die nodige voorsorgmaatreëls sal tref rakende die afsonderingsregulasies. Hierdie is egter dié wedloop waar ons wil poog om atlete reg oor die wêreld te laat saamstaan in een ongelooflike virtuele gebeurtenis.”

Lees die amptelike brief hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wilhelm ·

Ek wil nie ‘n geskenkpakkie ontvang nie. I.P.V. die wedloop te kanseleer, stel dit uit tot 2021. Ek gee nie om om dan (as ek die wedloop voltooi) doedere met 2020 datumstempel op te kry nie. Dit kan vesamelstukke word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.