Diamantliga se atlete begin dán skitter

Argieffoto: Pixabay

Die eerste van veertien Diamantliga-byeenkomste begin Vrydag 4 Mei in Doha, Katar, en duur tot 31 Augustus wanneer die laaste byeenkoms in Brussel, België, aangebied word.

Verskeie Wêreld- en Olimpiese kampioene, wat die room van baan- en veldatlete insluit, sal in aksie wees. Vanjaar se veertien byeenkomste word in twaalf lande aangebied en daar is feitlik weekliks ʼn byeenkoms wat oor ʼn volle vier maande strek.

Skedule vir die 2018 Diamantliga:

  1. Doha 04 Mei 2018
  2. Sjanghai 12 Mei 2018
  3. Eugene 26 Mei 2018
  4. Rome 31 Mei 2018
  5. Oslo 07 Junie 2018
  6. Stockholm 10 Junie 2018
  7. Parys 30 Junie 2018
  8. Lausanne 05 Julie 2018
  9. Rabat 13 Julie 2018
  10. Monaco 20 Julie 2018
  11. Londen 21/22 Julie 2018
  12. Birmingham 18 Augustus 2018
  13. Zürich 30 Augustus 2018
  14. Brussel 31 Augustus 2018

Caster Semenya nadat sy die goud gewen het (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

Een van die groot trekpleisters by die eerste byeenkoms in Doha is Caster Semenya wat in die 1 500 m vir vroue sal aantree. Haar persoonlike beste tyd van 4:00.71 het sy hierdie seisoen behaal en die groot vraag is of sy deur daardie vier minute-merk kan breek. Caster het onlangs goud in die 800 m en 1 500 m by die Statebondspele verower.

Van die ander Suid-Afrikaners wat in aksie sal wees, is Pieter Conradie in die 400 m vir mans en Cornel Frederics in die 400 m-hekkies vir mans.

Daar is baie fokus op twee nommers waar verskeie atlete met die louere kan wegstap, en dit is in die paalspring vir vroue en die spiesgooi vir mans. Verskeie van die Statebondspele se uitstaande vrouepaalspringers gaan hul kompetisie voorsit.

Katar se Mutaz Barshim is die atleet om dop te hou in die hoogspring vir mans. Hy jaag die wêreldrekord wat reeds 25 jaar staan. Barshim het ʼn merkwaardige seisoen in 2017 beleef toe hy as Wêreldkampioen, Diamantliga-kampioen en die IAAF se atleet van die jaar gekroon is. Hy was ook in 2017 onoorwonne in die hoogspring vir mans gewees.

Die program begin Vrydag 4 Mei om 18:00 en eindig net voor 21:00.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.