‘Dis ʼn groot eer’, sê Arina oor wêreldrekord

Arina na haar oorwinning.

Arina Nicolaisen, ’n matriekleerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, sê sy wou soos ’n klein kind op en af spring van vreugde toe sy hoor sy het pas ’n wêreldrekord agter haar naam geskryf.

Die 18-jarige Arina het Sondagoggend aan die Wêreldkampioenskapreeks vir gestremde junior atlete in Switserland die 800 m in ’n rekordtyd gewen. Sy ding in die T38-klas mee vir atlete met ’n serebrale gestremdheid.

Haar wentyd van 2:35.83 het die 18 jaar oue vorige wêreldrekord van die Portugees Maria Fernandes (2:35.90) net-net oortref.

“Dit is beslis die hoogtepunt van my atletiekloopbaan. Dis nie aldag dat ’n mens die geleentheid kry om internasionaal deel te neem en dan boonop ’n wêreldrekord op te stel nie. Dis ’n baie groot eer,” sê Arina.

Benewens die nasionale rekord in die 800 m spog sy ook met dié titels in die 400 m en 1 500 m. Sy het verlede jaar die wêreldrekord in die 1 500 m met slegs ’n enkele sekonde misgeloop.

“Ja, die rekord (in die 800 m) was ’n groot mikpunt. Nadat ek reeds die SA rekords behaal het, het ons (sy en haar afrigter Rufus Botha) besluit om daarvoor te gaan.

“Ek het nie dadelik besef ek het dit reggekry nie. Ek was nie by die baan toe dit aangekondig is nie. Dit was eers ’n werklikheid toe my ouers (Anton en Sunet) vir my kom sê het. Ek was baie bly, ek het soos ’n klein kind begin spring, só bly was ek.

“My ouers is baie trots. My pa en afrigter het geskerts ek gee vir hulle ’n hartaanval omdat ek in ’n stadium agter die tyd was.

“My vorige beste tyd was 2:38.77, so dis nogal ’n baie groot verbetering.”

Arina het Dinsdag nog griep onder lede gehad en Maandag dus nie eens ’n stem gehad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Baie geluk en trots op jou!!! Wens net hulle moet ook dowes insluit om deel te neem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.