Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die organiseerders van die Tokio Olimpiese Spele het op ’n nuwe datum vir die internasionale sportskouspel ooreengekom: Die Spele is so te sê met presies ’n jaar uitgestel en sal nou van 23 Julie 2021 tot 8 Augustus 2021 plaasvind.
Die aanvanklike datum was 24 Julie 2020 tot 9 Augustus 2020, maar die Covid-19-pandemie het ’n stokkie voor enige atleet se deelname-planne gesteek.
“Met hierdie aankondiging is ek seker dat ons hierdie ongekende uitdagings kan oorkom. Die mensdom bevind homself tans in ’n donker tonnel. Die Olimpiese Spele kan die lig aan die einde van dié tonnel wees,” het die president van die IOK, Thomas Bach, gesê.
Tokio se goewerneur, Yuriko Koike, was optimisties oor die toedrag van sake.
“Ons sal weer eens met ons voorbereidingswerk begin om toe te sien dat die Spele veilig is vir atlete en die toeskouers. Maar eers moet ons die koronavirus klop,” het sy aan verslaggewers gesê.
Vroeër was die organiseerders onder geweldige druk van die internasionale sportgemeenskappe om die skouspel uit te stel.
Lande soos Kanada sou hul atlete onttrek het as die Olimpiese Spele vanjaar voortgegaan het, terwyl Suid-Afrika se Cameron van der Burgh basies by die organiseerders gepleit het om die Spele uit te stel.
Van der Burgh het positief vir Covid-19 getoets en hy was veral bekommerd oor die atlete se kondisioneringswerk vóór die Spele.
“Die verlies aan fiksheid en kondisionering is geweldig en ek kry atlete jammer wat Covid-19 opdoen, juis omdat soveel van hul kondisioneringswerk in die slag sal bly. Infeksie nader aan ’n groot kompetisie is die ergste,” het Suid-Afrika se Olimpiese goue medaljewenner getwiet.
Die organiseerders se besluit beteken egter dat die Wêreldkampioenskap van verskeie Olimpiese sportsoorte, soos swem en atletiek, noodgedwonge nuwe datums sal moet soek.
Die Paralimpiese Spele vind van 24 Augustus tot 5 September in Tokio plaas.