Drafklub se vindingryke plan

Die virtuele marathon se lokplakkaat. Foto: Facebook.

Met marathons, waaronder die Twee Oseane en die Forever Resorts Loskop, wat links en regs weens Covid-19 afgelas word, is die frustrasie van gesoute drawwers beslis te verstane.

Die Irene Atletiekklub moes ook noodgedwonge hul Irene Ultramarathon afgelas het, maar organiseerders het met ’n slim plan vorendag gekom om die wedloop op ’n virtuele manier te beredder.

Elke atleet wat vooraf ingeskryf het vir die marathon wat op 5 April gehou sou word, kan nou die afstand op hul eie tyd tussen 30 Maart en 5 April voltooi.

Moet ook nie vrees as jy nog nie ingeskryf het nie – jy kan tot 29 Maart nog aanlyn laat weet dat jy deel van dié unieke uitdaging wil wees.

“Jy kan hardloop waar en wanneer jy ook al lus het oor dié sewe dae, voltooi net die 48 km vóór 23:59 op 5 April 2020. Jy kan selfs ses sessies van agt km elk oor dié tydperk hardloop,” het die klub op hul amptelike Facebook-blad geskryf.

Volgens die organiseerders sal hulle dan ’n spesiale medalje aan die deelnemers stuur; ’n unieke T-hemp word ook beplan .

“Net om te wys jy het dié marathon op jou eie voltooi.”

Hoe dit gaan werk:

  • Voltooi die aanlyn inskrywing by https://forms.gle/9Wrxtf5rUACaWVJ6A.
  • Sluit by die JointEze Irene Ultra Club op Strava aan.
  • Indien jy nie ’n slimhorlosie besit nie, kan jy steeds jou tye oplaai. Jy kan ook jou tye na [email protected]  stuur.
  • Indien jy nog nie ’n T-hemp bestel het nie, kan jy nou een teen R160 bestel.
  • Besoek gerus die klub se amptelike Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Minister Nathi Mthethwa sal aan sy pretzels stik as hy hierdie moet lees.

Anel ·

Wys net hoe vinding ryk ons mense is. Hoe sê hulle, ” ‘n boer maak ‘n plan”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.