Drama – en Wayde eindig net derde in semi-finaal

Op ʼn dramatiese aand by die Wêreldkampioenskappe in Londen is Izaac Makwala toegelaat om in ʼn alleenwedloop vir die semi-finaal van die 200 m te kwalifiseer en kon Wayde van Niekerk die finaal slegs as tweede beste van die derde-geplaastes haal.

Makwale, van Botswana, is nie Dinsdag toegelaat om in die finaal van die 400 m te hardloop wat deur Van Niekerk gewen is nie. Hy was een van die sowat 30 atlete wat klaarblyklik ʼn maagvirus in hulle hotel opgedoen het.

Hy het ook Maandag se 200 m-uitdunne misgeloop. Toe moes hy Woensdagaand solo hardloop en die 200 m in 20.53 s voltooi om vir die semi-finaal te kwalifiseer.

Dít het hy baie maklik reggekry. Hy moes toe in die eerste semi-finaal in die eerste baan, wat nie normaalweg vir die naellope gebruik word nie, wegspring.

Met reën wat deurentyd hard geval het en plasse op die baan, het Makwala in die eerste uitdun in die tweede plek met die tweede vinnigste tyd van 20.14 van die semi-finale klaargemaak.

Isiah Young se 20.12 was die vinnigste.

♦  Van Niekerk het stram gelyk. Dalk was dit die koue, miskien was dit styfheid ná Dinsdag se 400 m-finaal.

Hy het derde in die derde uitdun gekom en moes uithaal om die derde plek in die semi-finaal te beklink met 20.28 teenoor Christophe Lamaitre se 20.30.

Met net die voorste twee atlete van elke uitdun wat outomaties vir die finaal kwalifiseer, moes Van Niekerk toe op die uittel-tyd staat maak om as een van die twee vinnigste derde-geplaaste atlete te kwalifiseer.

Akani Simbine was in die eerste semi-finaal nie naastenby op sy beste nie en het sewende van die nege atlete in 20.62 gekom.

SA atlete se deelname Donderdag –

20:25: vroue: 800 m-uitdunne: Caster Semenya

20:35: mans: spiesgooi: Rocco van Rooyen

22:05: vroue: 200 m-semi-finaal: Justine Palframan

22:52: mans: 200 m-finaal: Wayde van Niekerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Ons kan verwag dat van Niekerk elke wedloop waaraan hy deelneem moet wen nie.Dit is onrealisties.As hy ‘n plek kry in die finaal onder die eerste drie is dit ongelooflike prestasie
vir ‘n atleet wat gedurig in die kollig is.

Trots verby ·

Ai hoe trots is ek vanaand na die finaal vd 200m op ons SA kampioen.Nou tel SA weer onder die wêreld se bestes!SUPERTROTS OP JOU WAYDE!!Nogmaals baie baie geluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.