Drie rekords spat by SA’s

In die 100 m vir vroue se halfeindwedloop het Carina Horn die SA rekord van 11.06, wat sedert 1990 gestaan het, na 11.03 sekondes herskryf. Argieffoto: Reg Caldecott/ANA

Drie nasionale rekords het op dag een van die Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskappe in Pretoria gespat.

In die 100 m vir vroue se halfeindwedloop het Carina Horn die SA rekord van 11.06, wat sedert 1990 gestaan het, na 11.03 sekondes herskryf. Die rekord het vir 28 jaar agter die naam van Evette de Klerk gestaan. Die 29-jarige Horn gaan poog om die finaal in minder as 11 sekondes te voltooi.

Thando Dlodlo het die 100 m- junior rekord verbeter na 10.11 sekondes. Dlodlo het ook saam met die junior uitnodigingspan die 4×100 m-rekord vir o.20’s herskryf na 39.46. Al drie rekords moet nog geverifieer word.

Stephen Mokoka het goud in die 10 000 m vir mans gewen in 29:34.56. Een van die gunstelinge, Elroy Gelant, het hom aan die wedloop onttrek. Dominique Scott-Efurd het ʼn taktiese 5 000 m-wedloop vir vroue in ʼn tyd van 16:55.05 beklink.

Die goue medalje in die diskus vir mans is deur Victor Hogan verower toe hy met ʼn afstand van 61.42 m geslaag het. Lynique Beneke het vir die sesde keer goud in die verspring gewen met ʼn sprong van 6.22 m.

Vrydag sal die aandag op die naellopers wees wanneer die eindstryde van die 100 m genael word. Henrico Bruintjies, Akani Simbine, Simon Magakwe en Anaso Jobodwana sal mekaar die stryd aansê.

Caster Semenya sal ook Vrydag in aksie wees in die 1 500 m vir vroue. Die byeenkoms duur tot Saterdagaand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ongelooflik ·

Ongelooflik, baie geluk aan elkeen en ek kan nie wag vir die manne, ek gaan ook nie kies, Akani is dalk dalk ‘n kortkop voor – hy was nog altyd dieselfde nederige inspirasie. Anaso jy is net so inspirasie, kom ek stop liewer, ek het Henrico ook ontmoet en ook ‘n oulike jong mens. Simon jy was al onder die 10. Sterkte manne of nee wag sterkte aan die tydhouer skeidsregter. Dit gaan splits wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.