Eerste skote in Wêreldkampioenskap klap vir van SA se bestes

ʼn Hele aantal van Suid-Afrika se vernaamste aanspraakmakers op medaljes  by die Wêreldkampioenskap wat Vrydagaand (20:00 SA tyd) in Londen begin, sal op die eerste dag reeds in uitdunne of kwalifiserende rondes betrokke wees.

Caster Semenya, gunsteling vir goud in die 800 m, spring Vrydag in die uitdunne van die 1 500 m weg. Haar tyd is die 12de vinnigste van die 44 atlete in die nommer maar dit sal glad nie verbaas as sy tussen die voorstes in die eindronde Maandagaand eindig nie.

Haar swak beste tyd vanjaar (4:17.87) is by ʼn Varsity-byeenkoms sonder veel teenstand aangeteken en niksseggend oor haar kanse. Sy het immers ʼn beste tyd van 4:01.99 agter haar naam.

♦  In die verspring is twee van die gunstelinge vir die kampioenskappe ook Vrydag in die kwalifiserende rondes van die verspring in aksie.

Luvo Manyonga se 8.65 m en sy bestendigheid maak dat die ander, onder wie sy spanmaat Rushwahl Samaai (beste 8.49), sal moet uithaal en hoop op ʼn afdag vir Manyonga – iets wat onwaarskynlik is gegewe dat hy vanjaar vier keer verder as 8.60 gespring het.

Zarck Visser neem ook aan die verspring deel maar sal na verwagting nie tussen  die voorste klaarmaak nie. Sy beste vanjaar is 8.22 m.

♦  In die 100 m vind die uitdunne (21:20 SA tyd) plaas, en Akani Simbine se kanse op ʼn medalje het ʼn hupstoot gekry toe die Kanadees André de Grasse weens ʼn besering onttrek het. Usain Bolt is natuurlik die gunsteling met die Amerikaner Christian Coleman wat ook ʼn sterk aanspraakmaker op ʼn podiumplek is.

Simbine sal op sy beste moet wees, maar behoort Vrydagaand se uitdunne te oorleef – goeie tyd kan sy selfvertroue ʼn hupstoot gee.

Die atlete vir die uitdunne is nog nie bepaal nie. Dit sal van die vertonings in die twee kwalifiserende wedlope vroeër Vrydagaand afhang wie hardloop teen wie.

♦  In die B-groep van die skyfwerp se kwalifiserende ronde sal Victor Hogan, wat die 13de beste afstand vanjaar van die 16 deelnemers in sy groep het, sy beste van 65.33 m moet gooi – en hoop dat hy sy beste van 65.33 kan oortref en dat van die voorste deelnemers onder die 32-tal nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Net 12 uit die 32 gaan deur – en Hogan is nie naastenby tussen die bestes nie.

Maar daardie een gooi kan natuurlik ʼn verskil maak …

♦ Stephan Mokoka se kanse in die 10 000 (finaal), die laaste item op die eerste dag, is feitlik nul. Sy beste tyd vanjaar (29:28.74) is die swakste van die 24 wat wegspring – heelwat meer as twee minute stadiger as die gunsteling, Mo Farah, se beste tyd (27:12.09) vanjaar.

Die byeenkoms begin Vrydagaand 20:00 SA tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.