Geldprobleme van Olimpiese atlete is meer as ’n eeu oud

Kenneth McArthur bereik die wenstreep in die Olimpiese marathon in 1912 in Stockholm, Swede. Iemand het meters voor die wenstreep die lourierkrans oor sy skouer gegooi. Dit het hom amper van balans af geruk. (Foto: Verskaf)

Deur Lennie Gouws

Die onlangse gekibbel oor die vergoeding van Olimpiese atlete is niks nuuts nie. Soos in baie ander gevalle herhaal die geskiedenis hom hier.

In 1912 het die Iers-gebore Suid-Afrikaner, Kennedy Kane (in Potchefstroom bekend as Kenneth) McArthur, ’n sensasie veroorsaak toe hy die marathon – die hoogtepunt van die Olimpiese Spele – in Stockholm in Swede gewen het. Nog ’n Suid-Afrikaner, Christopher Gitsham, was in die tweede plek. Dit was die enigste keer dat twee Suid-Afrikaners daarin kon slaag om die eerste en tweede plekke in dié item los te hardloop.

Geld was voor én na McArthur se deelname aan die Spele ’n groot twispunt.

McArthur het in 1902 na Suid-Afrika gekom as lid van die South African Constabulary (SAC), ’n semi-militêre polisiemag wat tydens die Anglo-Boereoorlog gestig is om wet en orde in die Transvaal en Vrystaat te handhaaf. McArthur was op verskeie plekke in en om Potchefstroom gestasioneer en het hom later op Potchefstroom gevestig.

Hy was ’n uitsonderlike atleet, maar sy pad om by die Olimpiese Spele uit te kom, was nie met rose besaai nie. In ’n brief wat in die argief van die Potchefstroom Museum bewaar word, word gesê dat sy eerste marathon ’n “go-as-you-please” tussen Klerksdorp en Potchefstroom was.

Kenneth McArthur, wat in 1912 die Olimpiese marathon gewen het, het bykans ’n dekade later eers vergoeding daarvoor ontvang. (Foto: Verskaf)

Dit is in 1904 georganiseer om die Britse magte wat na die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika gestasioneer was “besig te hou”. McArthur het die afstand van 57 km afgeblits. Hy het reeds klaar gestort en was al besig om sy derde bier te drink toe die volgende atleet eers die wenstreep bereik!

McArthur het net aan ses marathons deelgeneem en hy het almal gewen, blykbaar ook die enigste atleet ter wêreld wat dit kon regkry.

Op 22 April 1908 het hy die “South African Marathon” in Kaapstad gewen. Hierdie was ’n kwalifiserende marathon vir die span wat na die Olimpiese Spele in Londen sou gaan. McArthur het gewen, maar Charles Hefferon, wat in die tweede plek was, is vir die Olimpiese span gekies. Hefferon het in die Olimpiese marathon in Londen weer tweede gekom.

Dit was juis nadat McArthur in 1908 uit die Suid-Afrikaanse span gelaat is, dat daar veral in Potchefstroom groot verontwaardiging was. Die plaaslike koerant, die Potchefstroom Herald, het McArthur ondersteun en die keurders daarvan beskuldig dat hulle nie die mag en gesag waardig was wat in hulle geplaas is nie.

Ander koerante het hulle stuiwer in die armbeurs gegooi en die Potchefstroomse Atletiekvereniging van ’n onverskillige (lackadaisical) houding beskuldig en dat dit húlle skuld is dat McArthur nie gekies is nie.

Daarna is moeite gedoen om geld in te samel en McArthur is in 1910 Engeland toe gestuur om daar te oefen. Hy sou ook aan twee marathons deelneem; een in Engeland en een in Griekeland. Die marathon in Engeland is egter gekanselleer nadat die Engelse koning, Edward VII, gesterf het die dag voor die marathon sou plaasvind. Die Griekse marathon is ook gekanselleer as gevolg van onluste in die Balkanstate.

McArthur was nie spyt dat die marathons gekanselleer is nie. Hy het aan die Herald geskryf dat hy nuwe hardloopskoene van ʼn ene Law, uitvinder van dié skoene, ontvang het. Hy het tien myl (16 km) met die skoene gaan hardloop. Daarna was sy voete “cut up like raw beef”. Sy spiere was so seer dat hy nie kon oefen nie. Dié “marathon skoene” het drie rubberstukke onder die sool van die voet gehad en net een onder die hak. Dit het veroorsaak dat al sy gewig op sy hakke was wat die verrekte spiere in sy bene veroorsaak het!

McArthur se plek in die Suid-Afrikaanse span vir die 1912 Olimpiese Spele het eweneens met heelwat omstredenheid gepaardgegaan. Koerante het oor en weer modder gegooi en daar is beweer dat McArthur vooraf ’n senu-ineenstorting gehad het. Die Potchefstroomse Atletiekvereniging, onder voorsitterskap van die sakeman Pietro Ferrero, het egter hierdie keer gesorg dat daar genoeg geld was om McArthur oorsee te stuur. Selfs McArthur se kollegas in die polisie het geld bygedra.

Die Suid-Afrikaanse span wat in 1912 aan die Olimpiese Spele in Stockholm, Swede deelgeneem het. Kenneth McArthur, wat die marathon gewen het, sit voor tweede van regs. Christopher Gitsham, wat tweede gekom het sit voor heel links. HB Keartland sit in die middel voor, langs McArthur. (Foto: Verskaf)

Die Olimpiese Span het in April na Europa vertrek en in Engeland voorberei voor hulle na Swede vertrek het.

Skrapse fondse het veroorsaak dat dié span as die “brood- en melkspan” bekendgestaan het. Hulle het by die gastehuis waar hulle in Stockholm gebly het ontbyt geëet, bestaande uit eiers en ’n broodrolletjie met koffie. Aandete het bestaan uit biefstuk met groente. Vir middagete was hulle op hulleself aangewese. HB Keartland, spanbestuurder, sê dat hulle by muntoutomate gebotterde broodjies en suurmelk gekoop het – beslis nie voldoende vir topatlete nie.

Ten spyte hiervan was die 1912 Suid-Afrikaanse span van die suksesvolste óóit by ’n Olimpiese Spele. Die 22 sportmanne het aan ses van die veertien sportitems deelgeneem. Hulle het vyf goue medaljes gewen (fietsry, marathon, mansenkelspel en mansdubbelspel in tennis). Die twee silwer medaljes was vir die marathon en die mansenkelspel in tennis. Daar was nie Suid-Afrikaanse wenners van bronsmedaljes nie.

Die marathon was die hoogtepunt van die Spele en McArthur het na sy oorwinning oornag ’n sportsensasie geword. ’n Sweedse prins het op die veld gehardloop om hom geluk te wens. Studente het daarop aangedring om hom en Gitsham na hulle gastehuis toe te dra. Dáár het mense tot vieruur in die oggend in die straat gesing en moes die twee Suid-Afrikaners telkemale op die balkon verskyn.

Hierdie foto is deur Fred Coop, Potchefstroomse fotograaf, geneem nadat McArthur The Latest se marathon in Durban op 23 Oktober 1909 gewen het. Dit is as ʼn wêreldrekord gereken, maar is nooit erken nie omdat daar ’n misverstand met die afstand van die roete was. (Foto: Verskaf)

McArthur was die eregas by ’n banket wat die aand na die marathon in die stadion gehou is en wat deur 4 000 mense bygewoon is.

Die vroue van Stockholm het McArthur soos ’n sportsuperster behandel. Hulle het dikwels in ’n bekende wandelstraat gestap in die hoop om hom te sien. ’n Sweedse prinses het in ’n teekamer, waar McArthur ook was, spesiaal gevra om aan hom voorgestel te word. Toe hy met die trein na Gotenburg vertrek om vandaar per skip na Engeland te reis, was sy kompartement vol ruikers waar laggende en huilende meisies op die perron van hom afskeid geneem het.

McArthur is eweneens in Engeland en in Ierland vir sy oorwinning geëer.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika is ’n helde-ontvangs vir hom op die Potchefstroomse stasie gereël. Hy het op 4 September 1912 in Potchefstroom opgedaag en sy trein is om 17:30 verwag. Die hele dorp was daar en ’n koerantberig sê dat slegs die wat “ernstig siek” was nie gekom het nie. Daar word bereken dat 2 000 mense in en om die stasie vergader het.

McArthur se vrou het jare later vertel dat hulle al 14:30 op die stasie gestaan en wag het. Daar is selfs iemand met ’n rolprentkamera gereël om sy aankoms op film vas te lê.

Dit was helaas nie moontlik nie, want McArthur se trein het eers teen 20:15 die stasie ingestoom en dit was toe te donker. Blykbaar wou bewonderaars op al die stasies op pad van Kaapstad af ook die Olimpiese held sien en dit het die trein vertraag.

Eers teen November 1912 het daar begin stemme opgaan om minstens vir McArthur en Rudolph (Okey) Lewis, wat die goue medalje in die fietsren gewen het, ’n jaarlikse pensioen te laat kry uit waardering vir hulle Olimpiese oorwinnings. Daar is voorgestel dat dit £24 per jaar beloop. Die Herald was uitgesproke hieroor en het gewonder of Suid-Afrikaners besef het watter advertensiewaarde die Olimpiese wenners vir Suid-Afrika gebring het.

In ’n tydperk toe vergoeding vir atlete as een van die groot aardsondes gesien is, het iemand voorgestel dat ’n skildery ’n beter geskenk is. Die Herald reageer: “Oh dear! I can picture McArthur with his oil painting in his corrugated iron shack, and draw a veil.” (McArthur het as polisieman in die kantonnemente in Potchefstroom gewoon. Dit was hout- en sinkgeboue wat na die Anglo-Boereoorlog vanaf Indië na Suid-Afrika as huisvesting vir die Britse magte gebring is.)

’n Rubriekskrywer in die Herald skryf later dat daar van al die briljante beloftes aan McArthur min gekom het. In die vroeë 1920’s, meer as agt jaar na sy Olimpiese oorwinning, het hy £3 000 van die Olimpiese komitee ontvang. Die Potchefstroomse stadsraad het vir hom ’n erf gegee waarop hy ’n huis laat bou het.

McArthur kon toe ook eers met Joey Louw trou, wat hy kort na hy in 1902 in Suid-Afrika opgedaag het, ontmoet het. Met hulle troue was hy 39 en sy 33.

Haarklowery oor die vergoeding van Olimpiese atlete is dus niks nuuts nie, maak nie saak hoe briljant hulle was of hoe groot hulle sterstatus was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Barney

Dis erger onder die rasistiese korup anc.

VaalDonkie

Ja nee wat. As jy in hierdie land nie sokker of rugby speel nie, is jy niks.

Vrijburger

Baie interessant.
Maar tans is ons veronderstel om in ‘n profesionele sport era te wees.

Marius

Seker weer ou jan se skuld