Gemasker en gereed vir aksie

Jovan van Vuuren in aksie. Foto: Reg Caldecott.

Atlete wat droom om deel van volgende jaar se Olimpiese aksie te wees, het ’n paar splinternuwe uitdagings wat op hulle wag.

Twee van Tukkies se verspringatlete, Jovan van Vuuren en Helene Peens, het die week in die strate van Pretoria-Oos geoefen. Maar om met ’n masker te oefen is ongetwyfeld ’n aanpassing.

“Wanneer jy hardloop, bou die koolstofdioksiedvlakke op. En dit is hoegenaamd nie ’n lekker gevoel nie. Na elke hardloopsessie moet jy eers jou masker afhaal en ’n paar teue vars lug inasem. As jy dit nie doen nie, begin jou oë brand en jou keel krapperig word,” het Peens verduidelik.

Dit is egter nie hul eerste keuse om straatnaellopers te wees nie. Die wêreldwye Covid-19-pandemie het Neil Cornelius (afrigter) genoop om met innoverende idees vorendag te kom.

“In vlak 5 van die afsonderingstydperk kon ons nie veel doen nie. Deesdae kan Helene en Jovan darem aan hul vaart werk. Om op teerpaaie te hardloop is egter nie die ideale oplossing wanneer jy ’n baan- en veldatleet is nie,” het Cornelius gesê.

Die twee atlete kla reeds van ’n paar klein beserings. Hulle kan nie wag om weer op die atletiekbaan te oefen nie.

“Die adrenalien bruis lekker deur jou are wanneer jy verspring. Vir daardie breukdeel van ’n sekonde voel dit asof jy vlieg. Dit is egter nie altyd soveel pret as jy land nie – dit kan nogal ’n harde slag wees,” vertel Van Vuuren.

Sy beste sprong van 8,10 m beteken dat hy een van Suid-Afrika se beste verspringatlete van alle tye is.

Gedurende die laaste 18 maande het Peens weer op haar beurt haar persoonlike beste sprong met 40 cm verbeter. Tans spog sy met ’n sprong van 6,21 m.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.