Gerda mik hoër in New York

Gerda Steyn (Foto: Sibonelo Ngcobo/African News Agency/ANA)

Suid-Afrika se liefling-langafstandatleet, Gerda Steyn, sal die laaste twee wedlope van die FNB Run Your City-reeks as voorbereiding vir vanjaar se New York-marathon gebruik.

Sy sal op 24 September in Johannesburg en op 13 Oktober in Durban in aksie wees.

“Toe ek gevra is om weer vanjaar die New York-marathon te hardloop, het ek onmiddellik die twee FNB-wedlope op my kalender neergeskryf,” het Steyn vanuit haar oefenhoofkwartier in die suide van Frankryk laat weet.

Die Nedbank-atleet het ’n verstommende twee jaar agter die blad: Sy het die Twee Oseane-marathon twee keer gewen, terwyl sy met ’n tweede én ’n eerste plek in die Comrades-marathon spog. O ja, sy het vanjaar ook die Comrades se opwedlooprekord laat spat.

“Ek sal hierdie naweek ’n 10 km-wedloop in Engeland hardloop net om te sien hoe fiks ek tans is. Dan is ek terug in Frankryk vir twee weke voordat ek na Suid-Afrika terugkeer vir die FNB Joburg 10K.”

“My oefenwerk loop seepglad en wil probeer om ’n persoonlike beste tyd in New York te hardloop. Daarom sal die Durban-wedloop my laaste fiksheidstoets wees.”

Sy het hoë verwagtinge vir die res van 2019.

“As jy my aan die begin van die jaar sou vra of ek ooit sou verwag het om só ’n goeie 2019 te hê, sou ek baie verbaas gewees het.”

“Ek het geweet dat ek fikser is as in 2018, maar het ek soveel verbetering verwag? Nee, glad nie.”

“Juis om dié rede is ek baie opgewonde oor die res van die jaar. In New York wil ek vinniger as 2:30 uur hardloop. En as ek my persoonlike beste tyd in Durban se 10 km-wedloop hardloop, sal ek weet dat ek my New Yorkse doelwit kan bereik. Daarom is ek baie opgewonde om albei FNB-wedlope te hardloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swaleha Ismail ·

Artikels is kort en bondig. Maklik en genotvol vir die leerders veral eerste Addisionele taal leeŕders.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.