Gerda Steyn is sewende in Londen

Gerda Steyn het vandag in Londen weer vir Suid-Afrikaanse sportliefhebbers ’n rede gegee om te glimlag. Foto: Twitter.

Dit was ’n mistroostige dag in Londen, maar daar was waarskynlik ’n reuseglimlag op Gerda Steyn se gesig. Die Suid-Afrikaanse langasem kon weer hardloop, en oudergewoonte het sy nie teleur gestel nie.

Die 30-jarige Steyn het sewende in die Londen-marathon (42,2 km) met ’n spogtyd van 2:26:51 geëindig. In die proses het sy haar vorige persoonlike beste tyd van 2:27:48 – wat sy verlede jaar in New York gehardloop het – met byna ’n minuut verbeter en amper Colleen de Reuck se nasionale rekord van 2:26:35 verbeter.

Die Nedbank-atleet het verlede jaar geskiedenis gemaak toe sy die eerste vroue-atleet geword het om die Comrades-roete tussen Durban en Pietermaritzburg in ’n tyd vinniger as ses uur af te blits. Haar spogtyd van 05:58:53 het Elena Nurgalieva se vorige rekord van 06:09:23 met meer as tien minute verpletter.

Die Covid-19-pandemie het wêreldwyd ’n negatiewe invloed op sport, en die organiseerders van die Comrades was genoop om die gewilde ultramarathon vanjaar te kanselleer. ’n Besluit wat laas tydens die Tweede Wêreldoorlog geneem is.

“Vir atlete is dit ’n baie slegte tyd, maar die belangrikste ding wat ek in hierdie onsekere tye geleer het, is dat jou sielkundige ingesteldheid jou gemoed en motivering bepaal. Ons is almal in dieselfde bootjie en jy moet positief bly. Gelukkig kon ek my basisfiksheid behou en ek is daarvan oortuig dat ek gereed sal wees wanneer wedlope weer eendag mag wegspring,” het sy destyds aan Maroela Media gesê.

En goeiste, hoe het sy nie vandag weer Suid-Afrika trots gemaak nie!

  • Tien top-plekke in Londen:
  1. Brigid Kosgei (Kenia) 2:18:58
  2. Sara Hall (VSA) +3:03
  3. Ruth Chepngetich (Kenia) + 3:07
  4. Ashete Bexere (Ethiopië) +3:53
  5. Alemu Megertu (Ethiopië) + 5:25
  6. Molly Seidel (VSA) +6:15
  7. Gerda Steyn (Suid-Afrika) +7:53
  8. Sinead Diver (Australië) +8:09
  9. Darya Mykhaylova (Oekraïne) +8:31
  10. Valary Jemeli (Kenia) +9:20

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.