Gʼn hekkie te hoog vir blitsige Marioné

Marioné Fourie seil oor ’n hekkie. (Foto: GB Jordaan)

Marioné Fourie…

Die klink sommer net na iemand wie se naam jy gaan onthou, nie waar nie? En as jy na haar drome luister, is dié 20-jarige atleet goed op pad om ook eendag ʼn podiumplek op die groot verhoog los te hardloop.

By die eerste ronde van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Grand Prix-reeks in Pretoria het sy hakskene vir haar teenstanders gewys om die 100 m-hekkies in 13.01 sekondes te wen. Kort tevore het sy ook goud by die nasionale kampioenskap in Potchefstroom gesmaak.

Toe was haar tyd 12.98 sekondes.

“Ek werk baie hard om die Suid-Afrikaanse rekord te verbeter en om onder die voorste atlete ter wêreld in my item te tel,” het sy vir Maroela Media gesê.

Rikenette Steenkamp spog tans met die nasionale rekord en het in 2018 ʼn blitsige 12.81 sekondes by ʼn byeenkoms in Switserland gehardloop.

Steenkamp het egter vroeër vanjaar haar uittrede aangekondig en deesdae is Fourie ongetwyfeld een van Suid-Afrika se hekkie-heldinne.

Fourie in aksie by die Wêreldkampioenskap in Oregon. (Foto: Verskaf)

“Ek was een van die jongste atlete by die Wêreldkampioenskap in Oregon en ek het daar vir die halfeindstryd-ronde gekwalifiseer.”

Nodeloos om te sê is dit ook tans die prestasie waarop sy die trotsste is. Die oudleerder van Hoërskool Driehoek het toe haar persoonlike beste tyd van 12.93 sekondes gehardloop.

Op tuisbodem is sy doodeenvoudig onstuitbaar.

Sy het twee jaar terug laas die onderspit op ʼn plaaslike atletiekbaan gedelf – nogal teen die einste Steenkamp. Sedertdien skrik haar wenlopie vir niks: 15 goue medaljes op ʼn streep sal enige atleet groot laat glimlag.

Sy skaaf ses dae per week aan haar hekkievaardighede op die baan, terwyl sy ook gereeld ʼn draai by die gimnasium maak, sê Fourie.

“Ek weet dat ek definitief nog vinniger kan hardloop; die hoofbestanddele wat ontbreek is die regte wedloop en die regte kompetisie om my aan te vuur.”

Sy het in ʼn vorige onderhoud gesê dat sy by plaaslike wedlope soms reeds ná die derde hekkie al die voortou geneem het. En wanneer dit net jy en die stophorlosie is, is die kans groter dat jy onwillekeurig nie na die hoogste rat wissel nie.

Hier trek sy met ’n vaart in Pretoria weg. (Foto: Photo/Foto)

“Deesdae is ek eintlik nie meer so kwaai op my senuwees voordat ons wegspring as in die verlede nie. Ek hardloop nou net om my doelwit te bereik. En ek glo dat ek dit sal kan doen.”

Fourie en sommige van Suid-Afrika se ander topatlete is Woensdag by die tweede Grand Prix-byeenkoms in Germiston in aksie. Sy sal om 19:15 haar vaardighede uitstal.

  • Van haar grootste prestasies

12.93 sekondes: ASA Grand Prix-byeenkoms in Germiston (2022) en die Wêreldkampioenskap in Oregon (2022)

12.94 sekondes: Wêreldkampioenskap in Oregon (uitdunronde)

12.98 sekondes: Nasionale kampioenskap in Potchefstroom (2023)

12.99 sekondes: Byeenkoms in Sasolburg (2023)

Bron: https://worldathletics.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Wereldrekord is 12.12 sek en vinnigste tyd vanjaar 12.34, mmm – maar alle voorspoed aan haar nietemin. Haar vinnigste tyd is gelykstaande aan die wereldrekord in 1969 net om dinge in perspektief te stel. In 1970 was die wereldrekord al 12.8. As jy nou verder in ag neem welke vordering gemaak is met atletiekuitrusting sedertdien is ons bietjie ver agter die wereld se bestes.

Hans ·

Ek sou dink as haar verwagting was om die wereld rekord te breek op die ouderdom van 20, is sy seker bietjie ver agter die wereld se bestes. As mens gou na die top tien in die wereld kyk is die gemidelde ouderdom heelwat oor 25. Perspektief ??

piet ·

Beste tyd vanjaar sover is van ‘n 22-jarige. Wereldrekord is in 2022 gebreek deur ‘n 21-jarige (in ‘n semi-finaal) en weer gebreek by dieselfde byeenkoms deur ‘n 25-jarige ander atleet (in die finaal) wat nogal heel ongewoon is. Sou graag daai finaal wou sien, moes ‘n riller gewees het.. So ek weet nie, maar jy’s reg, meerderheid van die bestes blyk in die ouderdomsgroep 23 tot laat twintigs te wees vir die item. So daar’s nog hoop maar meer as 4m agter die vinnigste atleet vanjaar is baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.