Horn word geleidelik vinniger

Carnia Horn. Foto: Reg Caldecott.

In haar eerste 100 m-wedloop hierdie seisoen was haar tyd 11.19 s en in die daaropvolgende wedloop het sy dit in 11.16 s voltooi. Gisteraand in Sotteville Les Rouen (Frankryk) het sy dié item in 11.14 s gewen.

Carina Horn weet dus hoe trappe van vergelyking werk: vinnig, vinniger en ná gisteraand die vinnigste.

Tog wil sy nóg vinniger gaan in ’n poging om vir die Wêreldkampioenskap in Doha te kwalifiseer. Atletiek Suid-Afrika het die kwalifiserende tyd 11.10 s gemaak.

Horn – die eerste plaaslike atleet wat die 100 m in minder as 11 s kafgedraf het – het gesê sy weet sy kan op haar tye hierdie seisoen verbeter. Een van haar sterk punte is juis haar kanniedood-houding.

Tog het sy ook besef dat dit sinneloos is om ’n spesifieke tyd te verafgod.

“Ek het geleer om elke keer 100% te gee, is nie altyd die beste benadering nie. Ek voel gereeld wanneer ek oefen dat ek my beste gee, maar wanneer ek my afrigter vra wat my tyd was, dan is dit baie stadiger as wat ek verwag het,” het Horn gesê.

“Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Wanneer ek ontspanne hardloop, is my tye normaalweg beter. Juis om dié rede het ek tot die gevolgtrekking gekom om teen 98% van my volle vermoë te hardloop. Wanneer ek teen 100% hardloop, maak ek gereeld ongedwonge foute.”

“Die naaste wat ek nog ooit aan ’n perfekte wedloop gekom het, was toe ek verlede jaar 10.98 s in Doha gehardloop het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Valerie ·

Sy word stelselmatig ‘n “horing” in die vlees vir haar teenstanders. Great stuff!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.