Italië – land van pizza, pasta en nou 100 m-goud

Italië se Lamont Marcell Jacobs vier sy spogoorwinning. Foto: Jewel Samad/AFP.

Italië se Lamont Marcell Jacobs het gister kop en skouers bo die ander 100 m-atlete in Tokio uitgestaan. Nie net omdat hy amper 1,90 m lank is nie, maar ook omdat hy die eerste man ná die Usain Bolt-era is om die gesogte goue medalje in die 100 m-item te wen.

Die 26-jarige Texas-boorling het hakskene vir Akani Simbine, Andre de Grasse en kie. gewys om die wedloop in ’n spogtyd van 9.80 sekondes te wen.

“Dit is my droom vandat ek ’n kind is om die Olimpiese Spele te wen. Natuurlik kan ’n mens se droom verander, maar hierdie lopie in die eindronde is ongetwyfeld een wat waar geword het,” het Jacobs gesê.

Sy tyd was 0.01 sekondes vinniger as Bolt se laaste 100 m-oorwinning in Rio de Janeiro; toe die Jamaikaan die horlosie ná 9.81 sekondes gestop het. Vóór 2020 kon Jacobs nooit vinniger as 10 sekondes hardloop nie.

“Ek wil my familie en span vir hul ondersteuning bedank – veral my kinders en my ma wat nog altyd my grootste ondersteuners was.”

Die ander atlete het nie veel van Jacobs geweet nie; maar na dese sal hulle sekerlik vir hom ’n vriendversoek op Facebook stuur.

Jacobs en Suid-Afrika se Akani Simbine. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Fred Kerley (tweede met sy tyd van 9.84 sekondes) sê dat hy een keer teen hom in Monaco gehardloop het, terwyl De Grasse deur Jacobs se spoed uitgeboul is.

“’n Italianer wat 9.80 sekondes hardloop; dit is nou iets wat ek hoegenaamd nie verwag het nie. Ek het onder die indruk verkeer dat die Amerikaners my grootste teenstanders sou wees,” het De Grasse gesê.

Op sy beurt is Simbine teleurgesteld met sy vierdeplektyd van 9.93 sekondes.

“Die beter atleet in die eindronde het ongetwyfeld vandag gewen. Ek is baie bly vir Jacobs, maar ook teleurgesteld in myself,” het Simbine gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tino ·

Met die van dink ek RSA kan die goud eis. Kaapse vlakte boorling… haha

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.