Jongeling verras Wayde

Benjamin Richardson (Foto: Gerrit Van der Linde)

Die hooftafel was gedek en die atletiekheld Wayde van Niekerk het in die eindronde van die 200 m op die Suid-Afrikaanse nasionale atletiekkampioenskap in Pietermaritzburg daarby aangesit.

Maar niemand het die draaiboek vir die 20-jarige Benjamin Richardson gegee nie, wat Van Niekerk in ʼn tyd van 20.16 s geklop het.

Richardson se wentyd was boonop vinniger as die Olimpiese Spele se kwalifiseringsvereiste.

Van Niekerk het die silwermedalje in 20.31 s gewen met Sinesipho Dambile derde in 20.37 s.

Van Niekerk, wat reeds vir die Olimpiese Spele in die 400 m gekwalifiseer het, se aandag was op die 200 m toegespits, waar hy op soek was na sy vierde (200 m) en negende algehele goue medalje.

Maar dit was hom nie beskore nie.

Die derde dag van die byeenkoms het verskeie ander hoogtepunte opgelewer, met die 21-jarige Lythe Pillay, die junior wêreldkampioen in die 400 m, wat eerste was in 44.31 s.

Wat die toeskouers opgewonde gelaat het, was dat Pillay ook vir die Spele gekwalifiseer (45.00 sekondes) het en sy wentyd hom tweede ná Van Niekerk op die SA ranglys plaas.

Zakithi Nene, wat ook op pad Spele toe is, was tweede in 44.80 s.

Shirley Nekhubui (Foto: Gerrit Van der Linde)

Adrian Wildschutt, die nasionale rekordhouer in die 5 000 m vir mans, het die goue medalje in ʼn tyd van 13:30.38 gewen, met Elroy Gelant tweede in ʼn tyd van 13:34.04 gevolg deur Precious Mashele (13:35.19).

Shirley Nekhubui was ook rooiwarm toe sy twee keer op die boonste podium gestaan het. Sy het die 200 m in 23.28 s gewen nie te lank hierna nie die 400 m in 51.77 s.

Glenrose Xaba het ook twee goue medaljes in die 5 000 m en 10 000 m vir vroue gewen. Saterdag se oorwinning in die 10 000 m was in ʼn tyd van 32:56.29.

Dit was haar sewende titel oor dié afstand.

Ander uitblinkers was Jo-Anne van Dyk in die spiesgooi vir vroue (60.25 m).

In die verspring vir vroue was Danielle Nolte baas met ʼn afstand van 6,61 m.

Bronne: Olympics.com en SuperSport.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.