Jovan se vurige sprong

Jovan van Vuuren het ’n reusesprong in Stellenbosch gespring. Foto: Karen Viljoen.

Jovan van Vuuren het sy kleim onder die elite-atlete afgesteek met sy verspring-sege by die Universiteit Sport SA-atletiekbyeenkoms op Stellenbosch die afgelope naweek.

Dié Tuks-atleet het met sy wensprong van 8,10 m slegs die 14de plaaslike atleet geword wat die 8 m-kerf bereik het.

Hy is nou ook die negende beste Suid-Afrikaanse verspring‑atleet van alle tye. Sy vorige beste sprong was 7,82 m.

Snaaks genoeg het hy vroeër die jaar laaste by die Varsity‑atletiekbyeenkoms in Stellenbosch geëindig met sy sprong van 5,50 m.

Hy vertel dat sy prestasie nog nie behoorlik ingesink het nie.

“Ek kan niks van daardie sprong onthou nie. Ek dink nie ek besef nog heeltemal dat ek nou dalk saam met die groot honde kan blaf nie – verspring-atlete soos Luyo Manyonga, Ruswhal Samaai en Zarck Visser.

“As ek net sewe sentimeter verder kan spring, sal ek vir die Wêreldkampioenskap kwalifiseer,” het Van Vuuren gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.