Karsten se warrelwindlopie verbeter wêreldrekord

Noorweë se Karsten Warholm. Foto: Fredrik Hagen/AFP.

Noorweë se Karsten Warholm het gisteraand by ’n Diamantliga-byeenkoms in Oslo Kevin Young se wêreldrekord in die 400 m-hekkies verbeter.

Die 25-jarige atleet het die item in ’n spogtyd van 46,70 sekondes kafgedraf; 0,08 sekondes vinniger as Young se tyd wat hy in 1992 opgestapel het.

“Ek weet al vir ’n geruime tyd dat daar ’n vinnige tyd binne my is. Dit is egter een ding om te weet dat jy sterk kan vertoon en ’n gans ander ding om dit op die baan te doen,” het Warholm gesê.

“Dit was net die perfekte oomblik. Almal praat van hierdie rekord wat al amper 30 jaar staan; dit is ongelooflik spesiaal vir my.”

Hy het boonop ’n onheilspellende waarskuwing vir die ander 400 m-hekkiesatlete – hy glo dat hy nog vinniger kan hardloop.

Foto: Fredrik Hagen/AFP.

“Dit was my eerste 400 m-hekkiesitem van die seisoen en ek glo dat daar nog petrol in die tenk oor is. Dit sal hartseer wees as my eerste wedloop my beste sou wees.”

Warholm sal egter kwaai teenstand van Amerika se Rai Benjamin in Tokio kry; die Amerikaner het vroeër met ’n spogtyd van sy eie vorendag gekom.

Tog is Suid-Afrika se LJ van Zyl – wat self ’n blitstyd van 47,66 sekondes in sy loopbaan gehardloop het – in sy noppies met Warholm se poging.

“Sjoe, dit was mooi om te sien, maar ek glo dat die rekord inderdaad weer vanjaar verbeter kan word. Benjamin het ook vroeër met sy tyd van 46,83 sekondes beïndruk,” het Van Zyl gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.