Karsten sukkel met motivering ná Spele

Noorweë se Karsten Warholm breek rekords links en regs. Foto: Jewel Samad/AFP.

As 400 m-hekkiesatleet moet Noorweë se Karsten Warholm op die kruin van die golf wees, nie waar nie?

Die 25-jarige ster het immers by die Olimpiese Spele sy eie wêreldrekord in die item ná ’n verstommende 45.94 sekondes verbeter, terwyl kenners meen hy het saam met die VSA se Rai Benjamin vir die beste wedloop ooit op ’n atletiekbaan gesorg.

Maar ná al die feesvieringe, goue medaljes en koerantvoorblaaie erken die atleet dat hy effens met motivering sukkel.

“Wanneer jy alles bereik het waarvan jy van jongs af gedroom het, is jy gelukkig, maar jy voel ook effens leeg,” het Warholm gesê.

“Alles waarvoor jy so hard gewerk het, is verby.”

Daarbenewens twyfel hy ook of alles ooit weer so perfek vir hom op ’n atletiekbaan sal saamspeel.

“Alles het net reg in Tokio verloop. Ek het wonderlike teenstanders saam met my daar gehad, die toestande was perfek, dit was ’n vinnige baan en ons was in aksie by die Olimpiese Spele.”

’n Mens kan so iets seker nooit met sekerheid sê nie, maar volgens Wêreldatletiek se voorspellings kon sy ekwivalente 400 m-tyd 42.75 sekondes gewees het. Dit is ’n hele paar millisekondes vinniger as Wayde van Niekerk se wêreldrekordtyd van 43.03 sekondes.

“Ek is nie seker hoe vinnig ek ’n gewone 400 m sal hardloop nie, maar dit sal lekker wees om vas te stel.”

Hy het egter nou die dag vierde in ’n 400 m-item in Switserland geëindig, maar dit kan nog weens ’n Tokio-kopseer wees.

Tog is die Noorse superster bereid om iets anders te beproef. Hy oorweeg dit selfs om dalk weer sy verspringloopbaan te laat herleef – hy het immers as junior ’n afstand van 7,66 m gespring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.