Kipchoge is rêrig vinnig

Eliud Kipchoge in Berlyn. Foto: Tobias Schwarz/AFP.

Kenia se Eliud Kipchoge het Sondag in Berlyn sy eie marathonrekord (42,2 km) tot ʼn ongelooflike 2:01:09 verbeter.

Maar hier volg ʼn indrukwekkende stukkie statistiek: As jy sy rekordlopie in sarsies van vyf kilometer sou opdeel, sal sy tye oor dié afstand steeds die meeste parkrun-deelnemers se wildste drome oortref.

Kipchoge het die eerste vyf kilometer van die Berlynse wedloop in 14:14 min kafgedraf en hy het later die tempo tot 14:12 min verhoog. Dit kom neer op minder as drie minute per kilometer.

Hy het later ʼn bietjie stoom verloor en moes met ʼn tyd van “net” 14:43 min oor die laaste vyf kilometer tevrede wees. Hy het die hele wedloop teen ʼn gemiddeld van 21,02 km/h afgelê, dit is vinniger as die maksimum spoed wat die deursnee trapmeul kan bereik.

Om dinge nog meer in perspektief te plaas: Die afgelope parkrun-wedloop by die Botaniese Tuin in Pretoria is in ʼn tyd van 19:11 min gewen.

Die 37-jarige langasem van Kenia het in 2019 die eerste persoon geword om ʼn marathon in minder as twee uur af te jaag, maar dit word nie as ʼn amptelike wêreldrekord erken nie.

Gaan hy probeer om daardie rekord in meer permanente ink agter sy naam te skryf?

“Ek is van Afrika en ons het ʼn uitdrukking wat sê dat ʼn mens net een haas op ʼn slag probeer jaag. Ons span se jongste haas – as jy wil – was dan die Berlyn-marathon,” het Kipchoge gesê.

Volgens die merkwaardige langasem glo hy nie in enige perke nie.

“Ek sê altyd dat ʼn mens nie sommer beperk word nie en Berlyn bied vir ʼn atleet die wonderlike geleentheid om homself tot die uiterste te beproef.”

  • Kipchoge se 5 km-tye oor die 42,2 km:
  1. 14:14
  2. 14:08
  3. 14:10
  4. 14:12
  5. 14:24
  6. 14:32
  7. 14:30
  8. 14:43.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.