Kyk: Affies-blitse laat nasionale skole-aflosrekord spat

Rekordbrekers! Eckhart Potgieter, Joshua Nel, André Erasmus en Bjorn van Wyk. Foto: Facebook.

Dit is Vrydag laatmiddag op die Ruimsig-atletiekbaan en die gelaaide atmosfeer van die A-bond se interhoërbyeenkoms in Roodepoort beskik oor meer elektrisiteit as jou gemiddelde Eskom-kragstasie. Dit is ’n dag wat reeds vele hoogtepunte opgelewer het, maar die o.19 4×100 m-aflos; nou dít is die een item waarvoor almal gewag het.

In hul spesiale eeufees-aflosdrag tree die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se senior span in baan vier aan. Rondom hulle maak die atlete van Hoërskool Montana, Hoërskool Menlopark, Prestige College, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Waterkloof, Midstream Kollege en Hoërskool Garsfontein ook litte los.

Die geesvangliedjies, wat stelselmatig tot ’n crescendo in die aanloop tot die item opgebou het, word skielik deur ’n opgewonde gefluister vervang soos wat die atlete stelling in hul wegpringblokke neem.  Alle oë is op die afsetter gerig.

Maar toe daardie skoot klap, breek alle pandemonium los. En Affies se Witblitse – soos wat hulle bekendstaan – het nie teleurgestel nie.

Skaars 42 sekondes later – ’n fenomenale 40, 51 sekondes om presies te wees – het Bjorn van Wyk, André Erasmus, Joshua Nel en Eckhart Potgieter – nie net stof in hul teenstanders se oë geskop nie, maar ook die skolerekord met 0,35 sekondes verbeter.

Met ander woorde, dié vier is deel van die vinnigste aflosspan wat enige o.19-groep nog in die geskiedenis van skoolgaan in Suid-Afrika opgelewer het.

Nou ’n aflosspan is normaalweg net so goed soos sy stadigste atleet, maar in die Witblits-groep van 2020 is daar letterlik géén swak skakel nie. Van Wyk (10,5 sekondes), Erasmus (10,5 sekondes), Nel (10,6 sekondes) en Potgieter (10,3 sekondes) het elkeen hul individuele lopie in minder as 11 sekondes kafgedraf.

“Ons het vooraf gedink dat ons die rekord op dié dag kan verbeter. Ons het hard daarvoor gewerk en ons het net doodeenvoudig saam besluit dat ons ons beste sal gee,” het Nel Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê.

Die feit dat hulle die rekord in Affies se honderdste bestaansjaar gebreek het, maak dinge net soveel meer spesiaal.

“Daar is bittermin mense wat kan sê hulle het só iets vermag. Dit is absoluut iets unieks.”

Hul aflosdrag is ook spesiaal met ’n 100 jaar-tema ontwerp en hulle vertel dat dit vir sommer ekstra motivering gesorg het.

“Ons kleredrag maak beslis ’n verskil. Dit maak jou ingesteldheid net soveel meer positief om in die Affies-kleure te hardloop.”

As hulle nog ’n jaar of wat langer saam kon hardloop, dink hulle dat hulle die stophorlosie selfs vinniger kan stop?

“Definitief. Ons het reeds ’n paar foute in ons lopie geïdentifiseer waarop ons kan verbeter,” is hul onmiddellike antwoord.

Video’s van hul spogprestasie is reeds duisende kere op sosiale media gekyk.

“Baie meisies het nogal gunstige kommentaar onderaan die video gelewer, maar Eckhart het reeds ’n meisie en hy moes die vriendskapversoeke van die hand wys,” vertel hulle laggend terwyl Potgieter instemmend (en trots) sy kop knik.

En moet ook nie dink dat dié talentvolle vier ná skool uitmekaar gaan spat nie.

“Ons sal beslis vriende bly en ons wil ook eendag as ’n oudskolier-aflosspan daardie jaar se Witblitse aanvat.”

Talentvol, nederig, vriendelik en rekordbrekers. Bjorn van Wyk, André Erasmus, Joshua Nel en Eckhart Potgieter maak vir Affies trots in hul honderdste bestaansjaar.

  • Die vorige o.19 4-100 m-rekord van 40,86 sekondes is in 2012 óók deur vier Affies-atlete opgestel.
  • Die nuwe rekordtyd van 40,51 sekondes is vinniger as die huidige senior SA vrouerekord van 43,25 sekondes wat in 2000 deur Wendy Hartman, Dikeledi Moropane, Susanna Holtshausen en Heide Seyerling opgestel is.
  • Die video word met vergunning van Mias van Vuuren gepubliseer.

Vinnigste o/19 seuns skool aflos ooit in SA 40.51 sekondes#AFFIESSA rekord vir die SA O/19 span is 39.33s.

Posted by Mias van Vuuren on Friday, 21 February 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantelle

sjoe dis nou vir jou unieke atletiek drag Ek hou nogal daarvan

Snowball

Hoendervleismooi!