Kyk: Karsten verbeter wéér wêreldrekord

Noorweë se Karsten Warholm kan sy oë nie glo nie. Foto: Jewel Samad/AFP.

Daar is ’n paar dinge waarvan ’n mens seker in hierdie wêreld kan wees. Een is dat jy belasting moet betaal en die ander is dat Karsten Warholm deksels vinnig kan hardloop.

Die 25-jarige Noorse atletieksuperster het vandag oudergewoonte hakskene vir elke teenstander gewys toe hy wéér die wêreldrekord in die 400 m-hekkiesitem verbeter het.

Hy het onlangs by ’n Diamantliga-byeenkoms in Oslo Kevin Young se rekord (wat sedert 1992 staan) na 46.70 sekondes verbeter. ’n Paar uur gelede het hy egter sy eie rekord aan’t flarde in die Olimpiese eindstryd met sy onverbeterlike tyd van 45.94 gehardloop.

“Om ’n geykte uitdrukking te gebruik – die prestasie het nog nie heeltemal ingesink nie. Tog voel dit ongelooflik,” het Warholm gesê.

Die VSA se Rai Benjamin het die silwer medalje gewen. Sy tyd van 46.17 sekondes is die tweede beste 400 m-hekkiestyd ooit.

Maar Warholm is nie verniet die Europese, Wêreld- en Olimpiese kampioen nie.

“Ek word baie keer oor die perfekte wedloop uitgevra en ek het elke keer geantwoord dat dit nie bestaan nie. Maar vandag was die naaste wat ek nog ooit daaraan gekom het.”

Op sy beurt meen Benjamin dat dit die beste wedloop in die geskiedenis van die Spele is. En baie sal met hom saamstem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fae Fubar ·

Hoendervleis mooi. Dankie, Maroela Media, dat julle vir ons die insetsels beskikbaar maak deur die loop van die dag. Ons werk heeldag en sien gewoonlik eers saans die lekkerrrrr nuus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.