Kyk: SA se para-atlete skitter by wêreldkampioenskap

Anruné Weyers in Dubai. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se atlete is besig om die land se vlag met trots by die Wêreld-Para-atletiekkampioenskap in Dubai te swaai.

Anruné Weyers (voorheen Liebenberg) het haar tweede wêreldtitel verower toe sy die 400 m (T47-kategorie) in ’n nuwe kampioenskapsrekord van 55,79 sekondes gewen het.

Die 27-jarige spogatleet het die afgelope ruk met beserings gesukkel en haar indrukwekkende sege het beslis vir ’n reuseglimlag op haar gesig gesorg. Sy is Sondagaand ook aangewys as Suid-Afrika se sportvrou met gestremdheid van die jaar.

“Verlede jaar was werklik ’n moeilike tyd met al die beserings. Die afgelope wedloop was werklik ’n wonderwerk gewees, omdat ek nog net ses weke lank kon oefen ná my operasie. Ek is werklik dankbaar dat die beserings nou iets van die verlede is en ek net kan hardloop,” het sy gesê.

Weyers se linkerarm is net bo haar elmboog geamputeer.

Mpumelelo Mhlongo. Foto: Twitter.

Dan het Mpumelelo Mhlongo sy eie wêreldrekord in die 100 m (T44-kategorie) verbeter.

Mhlongo het weliswaar tweede in die finaal van die T64-kategorie ná Duitsland se Johannes Floors klaargemaak, maar sy tyd van 11,09 sekondes in die voorafgaande uitdunronde was goed genoeg om hom die wêreldrekord in die T44-klas te besorg.

Floors het sommer terselfdertyd die rekord in sy klas ook verbeter met sy tyd van 10,54 sekondes.

Mhlongo is met ’n sindroom gebore wat tot gevolg gehad het dat sy regterbeen korter as sy linkerbeen is, terwyl hy ook ’n misvormde voet het.

Hy het verskeie rekords agter sy naam, waaronder die Afrikarekords in die 100 m-, 200 m-, verspring- én hoogspring-items.

Suid-Afrika se ander medaljes in Dubai is deur Johanna Pretorius, Sheryl James en Reinhardt Hamman gewen.

Suid-Afrika is tans in die 21ste plek met ses medaljes (’n goue, ’n silwer- en vier bronsmedaljes). Die kampioenskap eindig Vrydag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Pragtig! mooi man! baie baie geluk julle so trots op julle!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.