Kyle eindig sesde by Spele

Kyle Blignaut het sesde by die Olimpiese Spele geëindig. Foto: Andre Geyser/SASPA.

Kyle Blignaut kon in vandag se gewigstoot-eindronde by die Olimpiese Spele nie daarin slaag om ’n medalje vir Suid-Afrika te wen nie.

Die voormalige junior wêreldkampioen se derde poging van 21,00 m was sy beste van die dag en hy het uiteindelik sesde klaargemaak.

Daarteenoor het die VSA se Ryan Crouser sommer ’n paar keer die Olimpiese rekord verbeter en dit was geen verrassing toe hy ook die goue medalje met ’n poging van 23,30 m ingeoes het nie.

Nóg ’n Amerikaner, Joe Kovacs (22,65 m) was tweede, terwyl Nieu-Seeland se Tomas Walsh (22,47 m) die laaste plek op die podium ingeneem het.

Die wêreld se voorste gewigstoot-atlete is deesdae sterker as ooit. Arsi Harju van Finland se wenpoging van 21,29 m by die 2000-Spele sou byvoorbeeld nie eens vir hom ’n plek naby die podium  in Tokio verseker het nie.

En as Blignaut weer deel van die destydse Sydney-aksie was, sou hy in aanmerking vir die brons medalje gekom het.

Zane Weir, wat in Amanzimtoti gebore is maar in die kleure van Italië deelneem, was vyfde met sy poging van 21,44 m.

Suid-Afrika is tans 40ste op die medaljepunteleer. China (32 goud) is steeds in die eerste plek, gevolg deur die VSA (27 goud), Japan (21 goud) en Australië (17 goud).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.