Lewenslesse van ’n kampioen-spiesgooier

Sunette Viljoen. Foto: Reg Caldecott.

Suid-Afrika se spiesgooikoningin, Sunette Viljoen, het ’n internasionale loopbaan van 16 jaar – gevul met hoogtepunte en laagtepunte.

Maar nou kyk die Olimpiese silwer medaljewenner terug op haar loopbaan en is sy gereed om ’n paar belangrike lewenslesse te deel.

In ’n brief aan haarself deel sy haar gedagtes van die heel begin toe sy nog nie eens tien jaar oud was nie.

“Jou vasberadenheid om nooit op te gee nie en altyd jou beste te lewer, is deel van jou menswees vir so lank as wat ek kan onthou,” het Viljoen geskryf.

Viljoen het destyds as ’n kleuter in die middel van ’n pretdraf gestop en haar broer (wat haar aangemoedig het) beveel om op te hou want sy wou die wedloop op haar eie voltooi.

“Jy het nog altyd die wil gehad om dinge op jou eie terme aan te pak en jy het nooit enige aanmoediging van iemand anders nodig gehad nie.”

Sy skryf verder dat sedert haar eerste wedloop – ’n pretdraf van vyf kilometer in Klerksdorp – toe sy ’n “spoedhobbel” getref en geval het, sy nog altyd oor die dryfkrag beskik het om met elke poging te slaag.

“Jy het destyds na die medaljetafel gestap en saggies vir jouself gesê: Ek wil óók ’n medalje wen.”

“Wel, vandag is jy ’n silwer medaljewenner op die Olimpiese Spele en jy het meer as genoeg gedoen om vir daardie amper-medalje op te maak.

“Terselfdertyd het jy ook geleer dat teleurstellings en nederlae deel is van jou reis op die sportveld.”

Sy voeg by dat ten spyte van al die teleurstellings – soos geen medaljes by die Olimpiese Spele of Wêreldkampioenskap – sy van niemand anders weet wat oor dieselfde deursettingsvermoë, vuur en passie beskik om op te staan nadat sy geval het nie.

“Jy beskik oor die hart en die veggees om aan te hou baklei, maak nie saak wat die lewe in jou rigting gooi nie. Jy sal ’n manier vind om ’n spies vir die lewe te gooi.

“Jy sal ook moet leer dat die lewe moeilik en taai kan wees; dat dit nie altyd maklik is nie, maar dat die Here jou in ’n baie spesiale wyse geskape het. Jy is sy soldaat op en van die veld.

“Hou aan om te veg, maak nie saak hoe moeilik die berg mag lyk nie. Onthou: Die uitsig van bo is altyd die beste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kat ·

Mooi gesê ek “pep” talk myself ook so dis die enigste maniere om aan te hou, en nooit OP te hou nie! Ek is eenvoudig gek na die feit dat ek niemand nodig het om my aan te moedig nie oew lekker waarheid!!! Baie geluk met die silvertjie mooi so !

Ep ·

Sunette jy is/was altyd n Yster van n dame in my oge Ek het altyd jou loopbaan gevolg en weet jy het altyd meer as jou beste gelewer. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.