Luvo Mayonga skitter in Diamantliga, spring al hoe nader aan die SA rekord

Luvo Mayonga – die vreugde van ‘n rekord (Foto: African News Agency – Xinhua/Wang Lili)

Suid-Afrika se drie verspringers het Saterdag in die IAAF se diamantliga-byeenkoms in Sjanghai uitgeblink en Luvo Mayonga het die Diamantliga-rekord laat spat.

Mayonga, die SA rekordhouer, het met sy derde sprong 8.61 m gehaal. Sy eerste twee spronge van 8.48 m en 8.49 m sou ook die kompetisie gewen het.

Hy het reeds die goue medalje in die sakkie gehad toe hy met sy laaste poging die rekord verbeter het en lyk reg om op sy SA rekord van 8.65 m te verbeter. Sy mikpunt is om 8.80 m te spring.

Rushwal Samaai het ʼn vyfde plek in die verspring met ʼn goeie poging van 8.18 m gehaal en Godfrey  Khotso Mokoena was agste met 7.85 m. Hulle het onderskeidelik een en vier ligapunte verdien en Mayonga het agt punte verdien.

Die kanniedood LJ van Zyl het met ʼn sterk eindpoging tweede in die 400 m-hekkies geëindig. Sy tyd was 49.35 , ʼn raps beter as die 49.49 m wat hy in Doha gehardloop het.

Elke item word net vier of ses keer in die liga herhaal en die agt atlete wat die meeste punte behaal, sal vir die finaal in September kwalifiseer.

Dis duidelik dat sommige van die groot name in atletiek hulle deelname aan die diamantliga nie as ʼn prioriteit stel nie; hulle voorbereiding vir die wêreldkampioenskappe kom eerste. Wayde van Niekerk sal eers in Julie in Lausanne deelneem.

Die volgende Diamantliga-byeenkoms is op 27 Mei  in Eugene (VSA).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.