Maak Comrades-litte los by Loskop

Die Forever Resorts Loskopmarathon word as een van die beste marathons in die land gereken. Foto: Middelburg Marathonklub.

Om presies 06:00 môreoggend spring nagenoeg 4 000 atlete by Middelburg se munisipale kantoor in Wanderersstraat vir die 33ste Forever Resorts Loskop-marathon weg.

Met ’n soortgelyke wedloopprofiel en oorgenoeg opdraandes (Varaday’s Hill) en afdraandes (Kranspoort) word dié ultramarathon van 50 km as die perfekte littelosmaker vir die Comrades gesien en verskeie hoëprofiel-atlete sal weer eens hul staal wys.

Van die vorige wenners sluit die Olimpiese marathon-kampioen Josia Thugwane in. Thugwane het self geruime tyd in Middelburg gewoon en het die vinnigste Loskop-tyd opgestel. In 2005 het hy die 50 km in ’n tyd van 02:44.03 afgeblits.

Middelburg se Seun Moleshoia het in 2011 so amper die bonustjek van R100 000 in sy sak gesteek, maar hy het Thugwane se rekord net-net misgeloop.

Moleshioa se tydhou-skyfie het losgekom en hy het waardevolle sekondes verloor om dit weer aan sy veters te heg.

Die Zimbabwiër Charles Tjiane het die afgelope twee jaar koning gekraai.

Maar die Loskop-marathon is nie nét vir super-atlete nie en dit word as een van die beste ultramarathons in Suid-Afrika gereken. En met reg so: Die waterpunte is bobaas, die wedloop word goed deur die plaaslike inwoners ondersteun en die eindpunt by die Forever-oord kan met van die beste internasionale marathons saam gesels.

Die Wild Challenge-halfmarathon in die Loskopdam-natuurreservaat is beslis ook nie vir sissies nie. Die moordende Thaba Diafela-heuwel is genoeg om selfs die fiksste atleet eers van draf te laat vergeet en op sy stapvermoë te fokus.

Wees egter gewaarsku: Daar wag nog so ʼn klein stukkie opdraande vir jou, nét as jy gedink het jy het dié heuwel getem.

In die ou dae het wedloopbeamptes drawwers dopgehou: Hardloop jy Thaba Diafela van begin tot einde uit, het jy ’n klein prys ontvang.

Die natuurskoon wanneer jy oor die Loskopvallei kan uitkyk, is egter die voorafgaande geswoeg werd en jy het sommer nuwe energie vir die volgende paar kilometer.

Die Forever Resorts Loskop-marathon is een van die lekkerste wedlope in die land. En met Hein Koch (wedloopdirekteur) en sy span aan die stuur van sake, kan jy gerus wees dat dinge glad gaan verloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Dit is pragtig in daardie omgewing. Tenminste doen hierdie mense iets konstruktiefs ipv om te betoog soos gekke. Geniet die wedloop.

Carel ·

Julle sal nie glo nie maar dit is ook vanoggend ontwrig deur betogings
So 15km op die roete

susan ·

Die verteenwoordigers van die verskillende partye was seker iewers besig met ontbyt in een of ander Restaurant

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.