Man pak Ultra-Trail Drakensberg-wedloop tuis aan

Armand du Plessis in aksie. Foto: Verskaf.

Kom ons som Armand du Plessis in ’n neutedop op: Hy is ’n man wat van hardloop hou en hy kan dit deksels goed doen.

Toegegee, dit is ’n ietwat oppervlakkige waarneming, want soos wat Jack Black tereg in Nacho Libre sê – ’n mens is soos ’n ui en bestaan uit verskillende lae.

Maar kom ons fokus op een van die “dele” wat van Du Plessis ’n spesiale Suid-Afrikaner maak.

As ultramarathon-atleet het hy al reg oor die wêreld naam gemaak. Hy was al onder andere derde by die uitdagende Ultra Fiord-marathon (160 km) in Chileense Patagonië, terwyl hy die 170 km van die Ultra-Trail du Mont-Blanc in Frankryk ook kafgedraf het.

Die afgelope naweek sou die Ultra-Trail Drakensberg plaasgevind het, maar weens die Covid-19-pandemie het dié wedloop ook in die slag gebly.

“Ek was van plan om vroeër gedurende die afsonderingstydperk lekker lang drafsessies by die huis in te werk, maar toe ek hoor daar word ’n virtuele Drakensberg-wedloop beplan, het ek besluit om daarby in te val,” het Du Plessis aan Maroela Media gesê.

Met die aflas van die wedloop het die organiseerders met ’n blink inisiatief vorendag gekom waar deelnemers ’n gedeelte van die wedloop by hul huise kan aanpak.

“Jy kon ook ’n kategorie kies waar jy sover kon hardloop as waarvoor jy lus was. Dit was baie lekker om die gees te ervaar en te sien hoe spesiaal dit vir so baie mense was om deel van die wedloop te voel.”

Du Plessis was een van die 1 200 atlete wat die uitdaging aanvaar het en hy het uiteindelik 100 km kafgedraf.

Hy het meer as 7 000 m geklim. Foto: Verskaf.

“Die vertikale trajek was vir my die grootste uitdaging; ek het 7 733 m oor die 100 km geklim. In vergelyking is die ‘regte’ wedloop se vertikale trajek – so 5 638 m oor die 171 km. Dus het ek kilometer vir kilometer darem meer geklim as in die werklike wedloop.”

Maar word dit nie baie vervelig om só te draf nie?

“Ja én nee. Gewoonlik tydens ’n lang drafsessie kan jy bietjie na autopilot vir ’n paar ure oorskakel. Op so ’n kort op-en-af-roete is daar egter geen kans om af te skakel nie en jy moet die heeltyd fokus.”

Hy erken wel dat die roete taamlik vervelig geraak het.

“Dit was basies net ’n reguit lyn – 70 m op en 70 m af. Ek kon nie die rigting wissel of enige variasie inwerk nie – behalwe om soms ’n draai by die yskas te maak.

“Ons het gelukkig ’n stukkie see- en berguitsig hier vanaf die huis in Kaapstad en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Ek het gereeld gedurende die wedloop aan die ander drawwers gedink wat iets soortgelyks binnenshuis moet aanpak. Nou dít verg baie moed.”

Hy het baie goeie ondersteuning gedurende die wedloop gehad – sy buurman het gereeld op sy vuvuzela geblaas, terwyl sy meisie (Heleen Mills) getrou op haar pos by die waterpunte was.

Armand du Plessis tydens Ultra Fiord 2016 Foto: Graciela Zanitti | iloverunn.com

“Om haar elke 70 m te sien het as uitstekende motivering gedien.”

Sy het ook vir hom ’n roetekaart geteken waar hy die verskillende landmerke van die werklike wedloop kon aanteken.

“Ek vind dit die maklikste om die afstand in kleiner dele op te breek. Ons het ’n tent op die stoep gehad en ek het myself belowe dat ek elke 10 km vir ’n paar minute daar sou lê!”

Sy ma, Jeannie, het ook ’n deel van die UTD in haar erf gedoen.

“Ek is ongelooflik trots op haar. Sy het aan die begin van die afsonderingstydperk in haar tuin begin stap en ná ’n maand se oefening het sy 40 km in haar tuin gehardloop.

Dit wys jou net wat jy kan vermag as jy daarop fokus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Michael 1

Ek dink die om jou huis hardloop vir n goeie doel en om aandag te trek is nou al tot vervelens toe gedoen ,doen iets anders soos plant n rekord aantal spek bome in in jou buurt.