Naellopers jaag 100 m-droom

Simon Magakwe. Foto: Reg Caldecott.

Daar kan Saterdag op die Universiteit van Pretoria se atletiekbaan ’n tikkie Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis gemaak word wanneer Akani Simbine, Simon Magakwe, Henrico Bruintjies en Thando Roto vir die 100 m-wedloop aantree.

Al dié atlete het al die 100 m in ’n tyd vinniger as 10 sekondes kafgedraf.

Voeg by die moontlike wegspringrooster die name van Clarence Munyai, Thembo Monareng en Gift Leotela en jy sit met ’n watertand-atletiekspyskaart.

Nog net een keer in Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis was daar twee atlete wat in dieselfde 100 m-wedloop vinniger as 10 sekondes gehardloop het.

Daardie blitsige dag was in 2017 toe Simbine ’n tyd van 9,92 sekondes en Roto 9,95 sekondes geblits het.

Akani Simbine. (AP Photo/Tim Ireland).

Simbine het toe sommer terselfdertyd die eerste Suid-Afrikaner geword om twee keer in dieselfde dag vinniger as 10 sekondes te hardloop.

Moet egter nie van die ander resiesperde vergeet nie.

Op 34-jarige ouderdom is Magakwe een van die ervare manne op die Suid-Afrikaanse atletiektoneel. Hy is ’n voormalige nasionale rekordhouer en spog met agt 100 m-titels agter sy naam.

Sy atletiekstorie is egter iets waarvan ’n Hollywood-skrywer net kan droom.

In 2009 het ’n minibus-taxi hom by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Stellenbosch afgelaai. Hy het net ’n plastieksak met ’n paar geleende spykerskoene en hardloopklere by hom gehad.

Tog het hy die 100 m op ’n drafstap gewen, net om te hoor dat hulle die lopie weer sal moet hardloop. Skaars ’n uur later wen hy die einste item vir die tweede keer.

Maar in 2015 was sy atletiekdrome aan’t skerwe toe hy versuim het om’n toets vir verbode middels te doen. Hy is vir twee jaar geskors.

Sy ma, Montshonyane, het ’n sleutelrol gespeel om sy loopbaan weer op koers te kry.

“My ma is met kanker gediagnoseer en vóór haar dood het sy net een versoek gehad: Ek moenie moed verloor wat my atletiek betref nie. Ek doen my bes om haar trots op my te maak,” het Magakwe gesê.

Hoewel hy erken dat hy die “ou man” van Suid-Afrikaanse naellope is, glo hy dat hy nog oor ’n paar sub-tiensekondeswedlope beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
KAIROS

Hierdie is fantasties! Geen politiek , geen snert, n atleet wat almal op trots kan wees vir sy talent
Ek wil meer sulke goeie nuus lees