Nel wil seepglad oor Olimpiese hekkie seil

Wenda Nel sal haar beste by die Olimpiese Spele gee. Foto: Anesh Debiky/AFP.

Wenda Nel se Olimpiese veldtog kry amptelik Saterdagoggend om 02:00 (SA tyd) koers wanneer sy by die wegspringblokke van die 400 m-hekkie-item aantree.

Die item beloof om een van die hoogtepunte van die Spele te wees met atlete soos Sydney McLaughlin (VSA), Dalilah Muhammad (VSA) en Femke Bol (Nederland) wat onder die gunstelinge tel om op die podium te staan.

Die drie het almal vanjaar reeds vinniger as 53 sekondes gehardloop, terwyl McLaughlin vroeër die wêreldrekord na 51,90 sekondes verbeter het.

Maar volgens Nel het Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag se medalje-heldedade elke Suid-Afrikaner in die Olimpiese groep geïnspireer.

“Ek raak steeds opgewonde as ek dink aan wat hulle bereik het. Dit is reuseprestasies en hopelik besef ons land se jong sportvroue dat hulle inderdaad groot drome kan koester,” het Nel gesê.

Die 32-jarige atleet se beste 400 m-hekkietyd vanjaar is weliswaar 55,16 sekondes, maar sy het al sukses op die nasionale én internasionale verhoog gesmaak.

Wenda Nel. Foto: Reg Caldecott.

Sy het reeds nege keer die Suid-Afrikaanse kampioenskap gewen, terwyl sy in 2018 die brons medalje by die Statebondspele in Australië ingeoes het.

Ja, McLaughlin en kie. is deksels vinnig, maar Nel sal nie toelaat dat dit haar gedagtes oorheers nie.

“Die grootste fout wat ek kan maak, is om heeltyd te dink hoe vinnig hulle is. Ek het immers my eie doelwitte wat ek wil najaag.”

Volgens Nel word elke oefensessie aangepak met die oog op een spesifike prys: Om die perfekte wedloop te hardloop.

“Ek sal mal wees daaroor as dit by die Olimpiese Spele kan gebeur, maar met sport is daar geen sekerhede nie. Al wat ek kan waarborg, is dat ek met elke wedloop my heel beste sal lewer.”

En dit sluit natuurlik die uitdunrondes in.

“’n Mens is immers by die Olimpiese Spele. Jy gaan nie jou kaartjie na die volgende ronde bespreek deur net te draf nie.”

Nel gaan ongetwyfeld elke hekkie met mening aanval, maar sy sal ook slim moet hardloop.

“My oupa het altyd gesê ’n mens moet genoeg petrol in die tenk vir belangrike oomblikke oorhê,” het sy in ’n vorige onderhoud gesê.

En die pylvak van ’n Olimpiese naelloopitem is ongetwyfeld ’n baie belangrike oomblik in enige atleet se lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

So die girl van ons se tyd is oor die 55 sekondes terwyl die drie genoemdes tye van onder 53 sekondes hardloop (en dis net 3 wat genoem is). Glo ons nou regtig dat ons deelnemer ‘n realistiese kans staan vir ‘n medalje? Sal seker weer in die eerste ronde uitval. Kan nie die doel daarvan sien om so ‘n atleet te stuur wat 3 jaar terug beter tye gehardloop het as nou nie. Nee wat man, mors van tyd en geld. So as die vinniger atlete 53 sekondes hardloop en sy by haar 55 sekondes hou, gaan sy meer as 15 meter agter hulle klaarmaak. Is dit nou werklik mededinged?

johan ·

Ek stem heeltemal saam met jou. Maar ‘n nog groter misterie is hoe ons water polo spanne daar gekom het??? Verloor met reuse tellings elke keer!

isabelle ·

sterkte jy is daar en dis FANTASTIES gee jou beste dame HEEL BESTE …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.