Olimpiese kampioen wil eers weer in 2022 hardloop

Italië se Lamont Marcell Jacobs vier sy spogoorwinning. Foto: Jewel Samad/AFP.

Duidelik dink Lamont Marcell Jacobs dat om twee Olimpiese goue medaljes te wen genoeg moeite vir een jaar is.

Die 26-jarige Italianer het teen alle verwagtinge in die 100 m-eindronde in Tokio met sy spogtyd van 9.80 sekondes gewen. Sodoende het hy stof in die oë van gunstelinge soos Akani Simbine en Andre de Grasse geskop.

Hy het later nóg ’n goue medalje ingeoes toe Italië die 4×100 m-aflositem ook gewen het.

Maar die Texas-boorling sal eers weer volgende jaar by ’n wedloop in aksie wees. Toe hy op sosiale media gevra is wanneer hy sal hardloop, was sy antwoord ’n kort en kragtige “2022”.

Om die beseringspook vry te spring is volgens Marcello Magnani, sy bestuurder, hoog op Jacobs se prioriteitslys.

“Marcell het vanjaar reeds sy allerbeste gelewer en as hy nou weer sou deelneem, is die moontlikheid beslis groter om ’n besering op te doen.”

Vóór die 100 m-eindronde het die ander Olimpiese atlete nie veel van Jacobs geweet nie; hy kon immers eers in Mei vanjaar vir die eerste keer in sy loopbaan ’n 100 m in minder as tien sekondes kafdraf.

Fred Kerley (wat tweede in Tokio met sy tyd van 9.84 sekondes was) sê dat hy een keer teen hom in Monaco gehardloop het, terwyl De Grasse deur Jacobs se spoed uitgeboul is.

“’n Italianer wat 9.80 sekondes hardloop; dit is nou iets wat ek hoegenaamd nie verwag het nie. Ek het onder die indruk verkeer dat die Amerikaners my grootste teenstanders sou wees,” het De Grasse destyds gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.