Olimpiese Spele: SA naellopers blitsig uit blokke

Akani Simbine het eerste in sy uitdun geëindig. (Foto: Ina FASSBENDER / AFP)

Die agtste dag van die Olimpiese Spele in Tokio het aan die wêreld se voorste naellopers behoort met drie Suid-Afrikaners wat in die 100 m-uitdunne tot die halfeindronde deurgedring het.

Akani Simbine (10.08) het eerste in sy uitdun geëindig, Gift Leotlela (10.04) was ook eerste in sy uitdun en Shaun Maswanganyi, wat in die VSA studeer, het derde in sy uitdun (10.12) geëindig, maar dit was goed genoeg om die paal te haal.

Simbine het weliswaar nie die vinnigste tyd behaal nie, maar nadat hy onlangs ʼn tyd van 9.84 in Hongarye aangeteken het, begin ʼn medaljekans al hoe sterker lyk.

Een van die dag se grootste hoogtepunte was in die eindronde van die 100 m vir vroue, toe drie Jamaikane, Elaine Thompson-Herah (10.61), Shelly-Ann Fraser-Pryce en Sharicka Jackson die voorste drie plekke ingeneem het.

Die Jamaikane Elaine Thompson-Herah, Shelly-Ann Fraser-Pryce en Sharicka Jackson het die voorste drie plekke ingeneem in hul uitdun. (Foto: Andrej ISAKOVIC / AFP)

Boonop was Thompson-Herah se wentyd ʼn nuwe Olimpiese rekord.

Wenda Nel het in die 400 m‑hekkies vir vroue tot die halfeindronde deurgedring nadat sy ʼn tyd van 56.06 opgestel het. Nel het derde in haar uitdun geëindig.

In die verspring vir mans kon Suid-Afrika se Ruswahl Samaai (7,74 m) nie vir die halfeindronde kwalifiseer nie, terwyl sy landgenoot Cheswill Johnson se drie spronge al drie onwettig was.

* In die swembad was net een Suid-Afrikaner, Emma Chelius, in die 50 m-vryslag in aksie. Sy het sesde geëindig (die 13de vinnigste tyd) en kon nie kwalifiseer nie, maar haar tyd van 24.64 is ʼn nuwe Suid-Afrikaanse rekord.

Die Suid-Afrikaanse gholfer Christiaan Bezuidenhout Saterdag in Tokio. (Foto: YOSHI IWAMOTO / AFP)

* Suid-Afrika se twee gholfspelers, Christiaan Bezuidenhout (206, 17de) en Garrick Higgo (212, 46ste) is straks uit die wedloop ná die eerste drie rondes.

Die Amerikaner Xander Schauffele (199) is met een hou voor Hideki Matsuyama van Japan (200) en twee houe voor Paul Casey (Engeland) en Carlos Ortiz van Mexiko.

* In die driekamp se gemengde afdeling vir mans is Suid-Afrika se kanse beduiwel nadat Henri Schoeman (enkelbesering) nie kon deelneem nie. Dit het beteken dat Richard Murray se drome ook daarmee heen was.

* In die hokkie het Suid-Afrika se vrouespan met 3-4 in sy laaste wedstryd in Groep A teen Indië verloor. Dit het beteken dat Suid-Afrika met die houtlepel tevrede moes wees.

Daar was ook geen sukses vir die seiljagvaarders Leo Davis, Alex Burger en Benjamin Daniel nie.

 

Akani Simbine het eerste in sy uitdun geëindig. (Foto: Antonin THUILLIER / AFP)

Akani Simbine het eerste in sy uitdun geëindig. (Foto: Jewel SAMAD / AFP)

Wenda Nel neem deel aan die 400 m hekkies vir vroue. (Foto: Ben STANSALL / AFP)

Suid-Afrika se vroue-hokkiespan Saterdag gedurende hul laaste wedstryd in Groep A teen Indië (Foto: MARTIN BUREAU / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.