Olimpiese Spele: Wayde spaar homself vir die halfeind

Wayde van Niekerk gedurende die uitdunne van die 400 m in Tokio. (Foto: Javier SORIANO / AFP)

Jy hoef nie jou uitdun te wen om later ʼn medalje te verower nie. Dit was basies Wayde van Niekerk se benadering tot die uitdunne van die 400 m in Tokio.

Van Niekerk het reeds om die laaste draai begin kyk waar sy teenstanders is want die eerste drie gaan deur na Maandagmiddag se halfeindronde. Hy het derde geëindig in sy uitdun in ʼn tyd van 45.26 sekondes. Dit is heelwat stadiger as sy manjifieke wêreldrekord van 43.03 wat hy in 2016 by die Rio Spele behaal het.

Die Amerikaner Michael Cherry (44.82) het die vinnigste tyd in die uitdunne gehardloop, met net vyf atlete wat beter as 45 sekondes kon hardloop. Twee van hulle was in Van Niekerk se uitdun –  Anthony Zambrano (44.87) van Colombia en die Australiër Steven Solomon (44.94).

Van Niekerk het ná die wedloop gesê hy moes die senuwees eers afskud en hy het ʼn goeie 200 m gehad, maar toe te vroeg afgeskakel.

“Maar hoe meer ek hardloop, sal ek meer beheer begin kry. Ek is in die halfeind en nou moet ek seker maak ek haal in op verlore tyd. Ek voel gemaklik. Ek voel goed.”

Van Niekerk is filosofies oor wat hy wil bereik. “Dit was ʼn paar taai jare vir die hele wêreld. My eie land gaan deur so baie op die oomblik. Daar is baie druk, teleurstelling, pyn. Ek probeer om ʼn lig te wees wat skyn, te veg deur my eie terugslae en beserings en om iets positiefs vir my land te wees.”

Van Niekerk se landgenote, Zakithi Nene en Thapelo Phora, het in die eerste ronde uitgeval. Hulle het albei vyfde in hulle uitdunne klaargemaak in onderskeidelik 45,74 en 45.83 sekondes. Dit was nie vinnig genoeg om vir die halfeindronde te kwalifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Sal baie beter moet doen. Daar is ‘n paar manne wat vir my beter op vorm gelyk het. Ons sal in die semi-finaal kan sien of hy die ding gaan doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.