Olimpiese vlam bring lig in onseker tye

Foto: Charly Triballeau/AFP.

Die Olimpiese vlam het vandag sy kronkelpad van die een Japanse stad na die ander begin en organiseerders hou duim vas dat die verrigtinge hoop in die onseker Covid-19-tye sal bring.

Ongeveer 10 000 drawwers sal oor die volgende 121 dae die fakkel tot in Tokio dra waar die Spele op 23 Julie amptelik begin.

Seiko Hashimoto, hoof van die Tokio 2020-organiseringskomitee, het die vlam as ’n ligstraal in donker tye bestempel.

“Hierdie klein vlam het nooit hoop verloor nie en dit het vir die dag gewag om te blom,” het Hashimoto gesê.

Waar die brandende fakkel se vordering normaalweg vurig ondersteun word, sal daar vanjaar ’n somberder atmosfeer heers.

Die dra van maskers is verpligtend en toeskouers mag net die aksie naby hul wonings volg. En dit gaan ’n stil optog wees.

Luidens regulasies mag ondersteuners hande klap, maar ’n vrolike gejuig is streng verbode. Daarbenewens moet sosiale distansiëring ook gehandhaaf word.

Volgens Teruhiko Okada van die organiseringskomitee is dit belangrik om die moontlikheid van te veel toeskouers te vermy. Inwoners word egter steeds aangemoedig om deel van die verrigtinge te wees.

Hoewel sommige toeskouers oor ’n gebrek aan opwinding weens die einste regulasies gemor het, het kinders se oë steeds geskitter terwyl hulle grootoog die vlam se vordering gevolg het.

“Dit is ’n wonderlike herinnering en ek wil eendag ’n professionele bofbalspeler wees wat na die Olimpiese Spele gaan,” het die tienjarige Tsuzumi Sugeno aan AFP gesê.

In Iwaki, die eerste groot stad op die vlam se aflosroete, het die 78-jarige Hikomitsu Onodera dieselfde blou baadjie gedra as toe hy ’n beampte by die Spele van 1964 in Tokio was.

“Dit was goed om te sien; sport is iets wat almal kan laat saam staan,” het Onodera gesê.

Tog beteken die onsekerheid wat die pandemie teweegbring dat beplanning en bepalings maklik by ’n leë stadion se losievenster kan uitwaai.

LJ van Zyl glo daar kan daar baie streng maatreëls by die Spele toegepas word. “Ek dink daar kan baie minder atlete as normaalweg wees. ’n Land sal byvoorbeeld net ’n paar atlete stuur om die getalle te beperk. Hulle sal dan heeltemal afgesonder in die Olimpiese dorp bly.”

Die 35-jarige voormalige hekkiesatleet het onder meer goud by die Statebondspele gesmaak, terwyl hy ook die o. 20-wêreldkampioen was. Boonop is sy spogtyd van 47,66 sekondes steeds die Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m-hekkies.

Daarbenewens is hy ook besig met ’n graad in Olimpiese Studie in Duitsland, terwyl hy verlede jaar saamgestem het met die besluit om die Spele uit te stel.

Volgens Van Zyl sal die gewone maatreëls – soos toetse en streng kwarantynregulasies – in die Olimpiese dorp toegepas word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Wat ‘n klug. Dit kan regtig nie Olimpies genoem word nie. Hierdie virus maak van alles’ n klug. Wens ons kan dit nou agter ons sit en voorentoe beweeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.