Om te hardloop is Ntando se grootste vreugde

Ntando Mahlangu (in die kleure van Afrikaanse Hoër Seunskool) sê vir Brittanje se Richard Whitehead die stryd aan. Foto: Ian Kington/AFP.

Ntando Mahlangu is ongetwyfeld een van die wêreld se voorste Paralimpiese atlete. Die jong ster het as ’n 14-jarige atleet die silwer medalje in die 200 m-item tydens die Spele in Rio de Janeiro losgehardloop, terwyl hy ook vanjaar die wêreldrekord in die einste item verbeter het.

En al hou hy self niks daarvan om voorspellings te maak nie, moet hy ongetwyfeld een van die gunstelinge wees om met die goue medalje (T61-kategorie) in Tokio weg te hardloop.

Mahlangu se bene het nie volledig ontwikkel nie en hy was vir die eerste tien jaar van sy lewe aan ’n rolstoel gekluister. Sy lewe is egter in 2012 onherroeplik verander toe Jumping Kids (’n liefdadigheidsorganisasie) hom van hulp met die verkryging van prostetiese bene was.

Sedertdien gaan hy van krag tot krag in die atletiekwêreld.

Mahlangu is een van die wêreld se voorste Paralimpiese atlete. Foto: Reg Caldecott.

Sy wêreldrekordlopie was ’n blitsige 22.98 sekondes in Gqeberha (Port Elizabeth), terwyl hy later selfs vinniger in Pretoria gehardloop het: Sy poging van 22.88 sekondes het egter nie getel nie omdat hy buite sy baan getrap het.

Dit is sy grootste vreugde om net te hardloop.

“Wanneer ek hardloop, hoor ek nie juis die mense wat my aanmoedig nie. Op daardie oomblik maak niks anders saak nie en dit is asof ek skielik op my eie is. Dit is ’n wonderlike gevoel,” het Mahlangu gesê.

Hy beskou die senior atlete van die 2016 Paralimpiese span as sy rolmodelle.

Moenie van Mahlangu se verspringvaardighede vergeet nie! Foto: Karim Sahib/AFP.

“Ek was toe net 14 jaar oud en ek het nie veel geweet nie. Ouens soos Charl du Toit, Mpumelelo Mhlongo en Arnu Fourie het my onder hul vlerk geneem en gehelp; ek sal hulle ewig dankbaar wees. Wanneer ek eendag ’n senior atleet is, wil ek ook graag ’n rolmodel vir ander wees.”

Benewens sy 200 m-talent is hy ook ’n kranige verspringatleet en hy het vierde in Rio de Janeiro geëindig.

Die Tukkies-atleet sê hy is dankbaar jeens familie en vriende wat hom altyd aangemoedig het om in homself te glo.

“Om gereeld te hoor dat iets binne jou vermoë is om te doen, kan jou hele lewe verander.”

Baie dankie aan almal by Afrikaanse Hoër Seunskool – Affies vir die ondersteuning! ❤ ???? ???? Ek waardeer dit, manne ????…

Posted by Ntando Mahlangu on Friday, August 20, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Chantel

Welgedaan, gebruik jou talent.