Onsekerheid is atlete se grootste vyand, sê Simbine-afrigter

Akani Simbine en Werner Prinsloo. Foto: Reg Caldecott.

“Die Covid-19-pandemie bied ’n unieke uitdaging en die onsekerheid is beslis ’n atleet en afrigter se grootste vyand,” het Akani Simbine se afrigter, Werner Prinsloo, gesê.

Met verskeie Diamantliga-byeenkomste, asook die Olimpiese Spele wat weens die koronavirus afgelas is, is atlete onseker wanneer hulle weer internasionaal sal mag deelneem.

“Soos wat sake tans staan, weet ek nie of daar enige internasionale byeenkomste vóór Augustus sal wees nie. Vyf van die Diamantliga-byeenkomste is reeds afgelas en hulle kan dalk dieselfde met die byeenkomste in Oslo, Parys, Londen en Monaco doen.”

Volgens Prinsloo is die vraag nou of die altete moet aanhou hoop om iewers in Mei mee te ding. En natuurlik om innoverende maniere te kry om fiks te bly.

Volgens die Tukkie-afrigter het Covid-19 die hele sportwêreld onverhoeds betrap.

Akani Simbine wen die 100 m op Pilditch-stadion op 30 Mei 2016. Foto: GB Jordaan

“Niemand het dit gesien kom nie. Die hartseer werklikheid is dat baie van die atlete nie sommer hul spelpeil sal herwin nie. Dit gaan selfs ’n uitdaging vir my en Akani wees. As jy na sy vertoning by die Noord-Gauteng-kampioenskap kyk waar hy ’n spogtyd van 9,91 sekondes in die uitdunronde gehardloop het, kan ’n mens maar net dink hoe die res van sy seisoen sou verloop het.”

Prinsloo gebruik die afsonderingstydperk om maniere te soek om Simbine nóg vinniger te maak.

Die Tukkie-atleet het vóór die landwye afsonderingstydperk twee keer ná mekaar spogtye in sy geliefde 100 m-item gehardloop.

“As atleet kan ek net fokus op die dinge wat binne my vermoë is om te beheer. Ek sal elke keer my beste lewer wanneer ek oefen en die geleentheid het om deel te neem. Ek wil op my sterkste wees as die Olimpiese Spele wel voortgaan. Jy kan nie ophou oefen bloot omdat jy dink dit sal gekanselleer word nie,” het Simbine gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.