‘Opgee’ bestaan nie in inspirerende skoolblits se woordeskat

Finansies is al wat tussen Nathan Pretorius en sy Amerikaanse atletiekdroom staan. Foto: Verskaf.

Nathan Pretorius is ’n unieke skoolatleet. Hy is een van daardie jong individue wie se lewe nie altyd die maklikste pad volg nie, maar ’n mens weet dat hy wel bo sal uitkom.

Die leerling van Hoërskool Middelburg is deur Hillsdale College in die VSA genader om deel van hul Rising Stars Track and Field-oefenkamp te wees. Indien hy die geld bymekaar kan maak om te gaan, wink ’n moontlike studiebeurs vir die 17-jarige ster.

“Ek is gemotiveerd en werk baie hard aan my atletiekdroom,” het hy vir Maroela Media gesê.

Hy skaaf gereeld aan sy krag- en spoedvaardighede, terwyl hy ook met padwerksessies sy stamina en longkapasiteit opbou. Andersins is hy op die atletiekbaan doenig wanneer die skool nie weens die wêreldwye Covid-19-pandemie gesluit is nie.

“Wanneer ’n mens werklik honger is vir sukses, sal jy steeds ’n manier vind om jou passie uit te leef.”

En soos reeds genoem, weet Nathan op sy jong ouderdom dat die pad na sukses nie altyd die maklikste is nie.

Hy is op vierjarige ouderdom met ernstige breinvliesontsteking gediagnoseer. Hy was lank sonder suurstof en sy hart het twee keer gaan staan terwyl hy in ’n koma was.

Dokters het ook gesê hy sal waarskynlik vir die res van sy lewe in ’n rolstoel wees en as verstandelik gestremd geklassifiseer word.

Maar een oggend het hy sy wenkbrou gelig en kort daarna sy oë oopgemaak. Hoewel hy weer van voor af moes leer loop, eet en praat, het hy elke dag sterker geword om weer sy plek by die wegspringblokke in te neem.

Nathan Pretorius. Foto: Verskaf.

Hy is egter ná die SA Kampioenskap weer in die hospitaal opgeneem. Dié keer met ernstige longinfeksie. Hy is aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel en het al sy spiermassa verloor.

“Ek kon destyds nie my bene hoër as my heupe gelig het nie. Maak nie saak hóé hard ek probeer het nie, dit wou net nie hoër nie. In my kop het ek geweet hoe om te hardloop, maar my bene wou eenvoudig net nie saamspeel nie,” het hy gesê.

“Opgee” is egter nêrens in Nathan se woordeboek te vind nie en binne ’n paar jaar is hy as die provinsiale kampioen in die 100 m gekroon.

“Dit verg ongelooflike harde werk om gefokus te bly, maar ek glo dat die VSA-geleentheid ’n positiewe invloed op my loopbaan sal hê. Dit is nou hul atletiekseisoen en hul byeenkomste gaan voort met geen beperkings nie. Dit is my grootste begeerte om myself as atleet daar verder toe te rus.

“Dit hou my positief om daaraan te dink want soms wil terugslae my aan die verlede herinner en my daar vasketting. Maar ’n mens maak jouself los daarvan as hoop en visie lewend bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Ek hoop hy kan gaan, want in dié anti-wit SA gaan sy “verkeerde” velkleur oral net teen hom gehou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.