Paralimpiese atleet verbeter eie SA rekord

Louzanne Coetzee en haar gids Easten Badenhorst. Foto: ANA

Die blinde atleet Louzanne Coetzee het haar eie Suid-Afrikaanse rekord in die 1 500 m vir T11-vroueatlete verbeter.

Coetzee het saam met haar gids, Estean Badenhorst, die item in 4:51:65 gehardloop tydens die Wêreld-Para-atletiek-Grand Prix-byeenkoms in Parys.

Sy is sedert die Wêreldkampioenskap in Londen in Julie 2017 die Suid-Afrikaanse rekordhouer in dié item.

Coetzee is ook die wêreldrekordhouer vir die 5 000 m en die Afrika-rekordhouer vir die 800 m in die T11-afdeling. Sy het reeds vir haar tweede Paralimpiese Spele gekwalifiseer. Dit volgens Paralimpiese Spele is in 2020 in Tokio.

Coetzee is vol lof vir Badenhorst. “Ek het al voorheen saam met hom gehardloop, maar kon nie verlede jaar van sy dienste gebruik maak nie weens sy studieverpligtinge.

“Dit is ʼn groot eer om saam met hom te hardloop en hy is ʼn fantastiese strategiese gids. Ek hoop ons kan in die toekoms weer saam hardloop.”

Die 800 m- en 5 000 m-items is nie deel van die Paralimpiese Spele se program nie en Coetzee het dus haar fokus na die 1 500 m verskuif. Sy sal in November ook aan dié item tydens die Wêreldkampioenskap vir gestremde atlete in Dubai deelneem.

“Dit is nou my hooffokus in die aanloop tot volgende jaar se Paralimpiese Spele,” het Coetzee gesê.

Die 26-jarige doen ook vanjaar haar meestersgraad in maatskaplike samehorigheid en versoeningstudies aan die Universiteit van die Vrystaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Wat ‘n girl! Wat ‘n voorbeeld! Wat ‘n inspirasie! Louzanne, ek wens jou alles sterkte toe. JY inspireer talle mense. Ek hoop iemand wat jou ken sal die boodskap oordra aan jou

leser ·

wonderlik, wys jou net, waar daar ‘n wil is, is ‘n weg
baie geluk met jou prestasies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.