Rikenette weer blitsig ná Covid-19-terugslag

Rikenette Steenkamp. Foto: Reg Caldecott.

Die Suid-Afrikaanse 100 m-hekkiesrekordhouer, Rikenette Steenkamp, kan weer breed glimlag. Die talentvolle atleet het Saterdag haar gunsteling-item by Tukkies met ’n tyd van 13,23 sekondes gewen.

Tog het sy nie die maklikste begin tot 2021 gehad nie. Die afgelope naweek was slegs haar derde byeenkoms nadat sy in Januarie positief vir Covid-19 getoets het.

Haar eerste wedloop van die jaar was in April by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Pretoria waar sy tevrede met ’n tyd van 13,74 moes wees. Ná die tyd was haar hartklop hemelhoog en ’n kardioloog het haar aangeraai om vir drie weke nie eens naby die oefenbaan te kom nie.

“Vanjaar is ongetwyfeld die moeilikste van my atletiekloopbaan; en ek moes al ’n paar taai uitdagings in die verlede oorbrug,” het sy gesê.

“Daar was tye waar ek gewonder het of ek ooit weer sal kan deelneem. Net as ek dink ek is gesonder en dat ek weer kan oefen, word ek weer siek. Ek het kwale opgedoen waarvan ek nog nooit eens gehoor het nie. Ek is wel nie seker of dit alles met Covid-19 te doen gehad het nie.”

Maar as die lewe ’n paar klappe uitdeel, weet Steenkamp hoe om terug te klap – sy beskik immers oor emmersvol talent en wilskrag.

Die oudleerling van Hoërskool Menlopark het immers in 2019 vir ’n tikkie atletiekgeskiedenis gesorg toe sy die eerste Suid-Afrikaner geword het om aan die 100 m-hekkiesitem by ’n Wêreldkampioenskap deel te neem.

Haar tyd van 12,97 sekondes in Doha was toe haar beste poging van die seisoen. O ja, vóór daardie heldedade moes sy eers haar pad terug van ’n hele paar beserings oopgeveg het.

En dit is hierdie einste vasberadenheid wat haar nou ook deur onsekere tye dra.

Sy was verlede naweek tweede met haar tyd van 13,61 sekondes, maar dit het haar die nodige selfvertroue vir Saterdag se wedloop gegee.

Die komende naweek in Potchefstroom is sy weer in aksie. Vergeet maar vir eers van spogtye – sy is net dankbaar om weer die geleentheid te hê om oor die hekkies te seil.

“Die ding waarop ek trots is, is dat ek deur die hele beproewing vasgebyt het. Ek sou baie spyt gewees het as ek atletiek gelos het.”

Suid-Afrika beskik inderdaad oor ’n hekkies-superheldin. En haar naam is Rikenette Steenkamp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Vasbyt, Rikenette. Pas jouself op. En beste wense vir jou loopbaan.

piet ·

Kwalifiserende tyd vir Olimpiese Spele is 12,84s ??????? Sterkte, nogtans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.