Room van atlete byeen by Tukkies

Luvo Manyonga. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Die Suid-Afrikaanse Senior-Atletiekkampioenskap begin Donderdag by Tukkies se stadion in Pretoria.

Die byeenkoms strek oor drie dae en die room van ons atlete sal in aksie wees. Die groot trekpleister, behalwe vir die goue medalje by die SA’s, is natuurlik die verdere voorbereiding vir die Statebondspele wat vroeg in April in Australië plaasvind.

Hierdie kampioenskap lewer altyd sy sarsie verrassings op én bring nuwe talent na vore. Die kompetisie is altyd uiters straf en daar is geen maklike oorwinning nie.

Verlede week het die Olimpiese kampioen Caster Semenya bevestig dat sy aan die 800 m en 1 500 m sal deelneem. Semenya het verlede jaar goud en brons op die Wêreldkampioenskap in Londen gewen en sal sekerlik by die Statebondspele weer haar merk wil maak.

Die naelloopsensasie Akani Simbine, wat sy seisoen met ʼn 10,05-oorwinning in die 100 m by die Grand Prix-byeenkoms in Tshwane begin het, het gesê hy sal ook aan twee individuele items deelneem. Verlede jaar op die nasionale kampioenskap het Simbine die 100 m gewen en tweede agter Wayde van Nierkerk in die 200 m geëindig. Henricho Bruintjies kan ook maar fyn dopgehou word.

In die verspring vir mans gaan die poppe behoorlik dans. Ruswahl Samaai het verlede week met ʼn indrukwekkende sprong van 8,24 m geslaag. Die wêreld het egter verlede jaar kennis geneem van ʼn super-talentvolle verspringer, Luvo Manyonga. Die verspring gaan sekerlik een van die kompeterendste items op vanjaar se kampioenskap wees.

Liefhebbers van atletiek kan maar hul lippe aflek. Hier kom drie dae se groot lekkerte.

Die program begin Donderdag om 09:30 en eindig Saterdag teen 20:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.