Russiese atleet spring skorsing vry

Sergey Shubenkov . Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Russiese atlete se verhouding met verbode middels kan selfs in goeie tye as stormagtig beskryf word.

Die land is vroeër vir ’n paar jaar deur die wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels (Wada) verbied om aan enige groot wêreldsportgebeurtenis deel te neem. Dit sluit die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Tokio, asook die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar in.

Nou het Sergey Shubenkov, ’n voormalige wêreldhekkieskampioen, ’n skorsing van sy eie vrygespring.

Dit volg nadat owerhede bevind het dat hy per ongeluk medisyne ingeneem het wat vir sy baba voorgeskryf is.

Die 30-jarige atleet het aanvanklik positief getoets vir een van die items op Wada se lys vir verbode middels. Sy saak is na ’n tugkomitee verwys wat dit as “werklik uitsonderlik” bestempel het.

Shubenkov – wat die 110 m-hekkiesitem by die Wêreldkampioenskap in 2015 gewen het – het aangevoer dat sy kind se medisyne ’n onsigbare spoor in sy kombuis gelaat het.

“’n Kind van so ’n jong ouderdom kan nog nie pille drink nie en ons moes die medisyne op ’n sekere manier voorberei. Dit het daartoe gelei dat daar byna ’n onsigbare poeier in my huis was wat ’n positiewe toets veroorsaak het,” het Shubenkov gesê.

Die tugkomitee het ná ’n deeglike ondersoek sy weergawe van die gebeure aanvaar en hul bevinding beteken dat die Rus onder ’n neutrale vlag aan die Olimpiese Spele mag deelneem.

Maroela Media het ook vroeër berig dat Suid-Afrika se verspringkampioen Luvo Manyonga vir vier jaar geskors is.

Die internasionale vereniging van atletiekfederasies (IAAF) se atletiekintegriteitseenheid (AIU) het die Olimpiese verspring-silwermedaljewenner geskors nadat hy versuim het om te voldoen aan die kriteria waarvolgens atlete, wat deel is van Wêreldatletiek se geregistreerde toetspoel, die AIU moet ingelig hou van waar hulle hulself bevind.

Dit is sodat die AIU atlete sonder kennisgewing kan opspoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.