SA atlete nog op koers na medaljes

Caster Semenya – kan in die 1 500 m ʼn paar monde snoer. Foto: AP Photo/Anja Niedringhaus (File)

Suid-Afrika se vernaamste aanspraakmakers op medaljes wat Vrydag op die eerste dag van die Wêreldkampioenskappe deelgeneem het, het op een uitsondering na goed gevaar.

In die verspring het twee van Suid-Afrika se grootste medalje-aanspraakmakers nie teleurgestel nie.

Ruswahl Samaai het in die vierde plek met ʼn sprong van 8.14 m gekwalifiseer en Luvo Manyonga was twee sentimeter verder terug in die vyfde plek. Die Tsjeggiese atleet Radek Juška  het ʼn goeie 8.24 m gespring – maar die Suid-Afrikaners word weens hul volgehoue goeie vertonings vanjaar steeds as die gunstelinge beskou vir die finaal Saterdagmiddag.

Zarck Visser, 7.66 m, was 25ste en het nie gekwalifiseer nie.

Jeff Henderson, die Olimpiese kampioen van 2012, kon nie vir die eindronde Saterdag kwalifiseer in dieselfde stadion waar hy sy goue gewen het nie.

♦  In die 1500 m het Caster Semenya die tweede vinnigste tyd ná Genzebe Dibaba  van Ethiopië opgestel en haar eie jaarbeste stukkend gehardloop. Didaba se tyd was 4:02.67 en Semenya s’n 4;02.84 in dieselfde uitdun.

Daar is min verskil in  die voorste atlete se tye en enigiets is moontlik, maar Semenya is duidelik te vroeg deur te veel in hierdie nommer afgeskryf.

♦  Victor Hogan het met 62.26 m in die skyfwerp 18de geëindig en nie deurgedring na die eindronde nie. Hy was 97 cm agter die 12de kwalifiseerder. Die beste gooi (67.64) het van Daniel Stahl gekom.

Die 100 m was vir Suid-Afrika ʼn teleurstelling. Akina Simbine het vierde in sy uitdun gekom nadat hy stadig weggespring het. Hy moes wag om uiteindelik met sy 10.15 s in die 15de plek as een van die vinnigste nie-kwalifiseerders deur te dring.

Simbine het nie oortuig nie, maar die diskwalifikasie van Tano Roto in die vyfde uitdun was die oorheersende slegte nuus vir Suid-Afrika.

Usain Bolt, in sy laaste 100 m voor sy uittrede, het baie stadig weggespring maar oudergewoonte teen die einde deurgekom om sy uitdun in 10.07 te wen.

Dit was slegs die agste vinnigste tyd op ʼn aand waar daar net een atleet was wat onder 10 sekondes gehardloop het. Julian Forte se tyd was 9.99.

♦  In die eerste en enigste finaal van die eerste dag het Engeland se gunsteling Mo Farrah sy laaste wedren oor die 10 000 m voor sy tuisskare met sy gewone eindpoging beklink en in 26:49.51 gewen.

Suid-Afrika se Stephen Mokoka was soos verwag is nie opgewasse nie en het  20ste van die 24 atlete in 28:14.67 klaargemaak.

Saterdag –

Oggend

11:00: Gewigstoot-mans, kwalifiserende ronde: Orazio Cremona en Jaco   Engelbrecht
11:45: 400 m-mans, uitdunne: Wayde van Niekerk en Pieter Conradie
12:34: 100 m-vroue, uitdunne: Carina Horn

Middag/aand

20:05: 100 m-mans, semifinale
21:05: verspring mans, finaal
21:10: 10 000 m- vroue, finaal
22:45: 100 m-mans, finaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.