SA-atlete skitter op Afrika-kampioenskap

Caster Semenya

Caster Semenya

Die Afrika-kampioenskap wat Sondag op die Kingspark-baan in Durban ten einde geloop het, was ʼn triomf vir Suid-Afrika en sy atlete.

Van die heel beste vertonings op die byeenkoms is deur Suid-Afrikaanse atlete gelewer, en die gasheerland het ook gemaklik met sy 33 medaljes (16 goud, nege silwer en agt brons) die beste op die nie-amptelike telbord gevaar.

Kenia was tweede met 24 medaljes (agt goud, agt silwer en agt brons). Daar was ʼn reeks goeie vertonings sedert Donderdag deur die Suid-Afrikaanse atlete, maar Sondag het miskien beter vertonings opgelewer as die ander dae wat tot ʼn groot mate deur uitdunne in beslag geneem is.

Onder die voorste vertonings was goud in drie van die vier afloswedlope deur die mans- en vroue-viertalle en ook ʼn derde plek; drie goue medaljes deur Caster Semenya – insluitende die 4 x 400 – en Wenda Nel wat lid was van dié aflosspan.

Nel se prestasie is ʼn duidelike aanduiding dat sy op koers is vir die Rio-Spele. Sy het wéér die 400 m-hekkies in onder 55 sekondes gehardloop, net-net buite haar beste van 54,61 dié seisoen.

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Wayde van Niekerk sê hy het effens stram gevoel in sy puik oorwinning in die 200 m wat hy aangepak het as deel van sy voorbereidingsprogram om vir die 400 m te piek. Hy het dus nie by sy beste tyd, 19,94, uitgekom nie maar is in dié omstandighede gelukkig met sy 20,02.

Hy het nie in die 4 x 400-aflos gehardloop nie, maar Suid-Afrika het nogtans Sondag ʼn goeie brons gewen met hul span van Jon Seeliger, Shaun de Jager, Ofentse Mogawane en LJ van Zyl.

Sunette Viljoen het soos verwag die spiesgooi gewen en Philmar van Rensburg se 76,04 m was goed genoeg om aan hom die manstitel te besorg.

Semenya verbeter persoonlike beste

Sy is nog nie seker aan watter items sy in Rio sal deelneem nie. Sy het Saterdag in die 1500 m die tweede vinnigste tyd nóg deur ʼn Suid-Afrikaner gehardloop.

Haar persoonlike beste tyd wat sewe jaar gelede opgestel is, is met meer as ses sekondes verbeter en haar wentyd van 4:01,99 was net 0,18 sekondes stadiger as die SA-rekord wat Zola Budd 32 jaar gelede, in 1984, opgestel het.

Semenya het toe Sondag ook die 800 m in haar derde beste tyd van die jaar, 1:58,20, gewen. Sy het reeds twee keer vanjaar in die Diamantliga 1:56,64 aangeteken.

En toe het sy saam met Nel, Jeanelle Griesel en Justine Palframan ʼn nuwe SA en kampioenskaprekord in die 4 x 400 m opgestel waar haar skitterende laaste ronde die deurslag gegee het.

Hul tyd, 3:28.49, mag Suid-Afrika dalk net vir die Spele laat kwalifiseer, afhangende van wat ander spanne tot die afsnydatum oor minder as drie weke vermag.

LJ van Zyl en Cornel Fredericks het albei weer ongemaklik gelyk en kon onderskeidelik slegs ʼn vierde en sesde plek in die 400 m-hekkies loshardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eliza-beth ·

Mooi so atlete! Ons kan nie wag vir Rio – hoop julle gaan almal die SA vlag hoog laat waai daar!

Lekker atletiek ·

Sjoe baie geluk aan al die atlete. Wayde jou nederige jong man, baie geluk ook met jou Prasa 2016 Sportman van die jaar asook Sport persoonlikheid ikoon van die jaar ! Baie geluk aa n die aflos span, dinge begin gebeur vir julle, jong Jon Seeliger, byt vas, jy is besig om die leer te klim!!!!!

JB ·

My klein niggie het 2de gekom oor die algemeen (gemiddeld) op die Junior internasionale atletiek wat so ‘n week of twee terug gehou was erens in Afrika!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.