SA atletiek en atlete beur sterk boontoe

Argieffoto: Pixabay

Argieffoto: Pixabay

Suid-Afrika se atletiek het vanjaar ʼn oplewing getoon wat verder strek as die medaljes wat die atlete op die Olimpiese Spele losgeslaan en het vir die land ʼn skitterende vyfde plek op die medaljelys vir atletiek besorg.

Die VSA was met sy 13 goue medaljes eerste, gevolg deur Kenia, Jamaika, China en Suid-Afrika, wat twee goue en twee silwer medaljes gewen het. Die vyfde plek plaas Suid-Afrika dus voor al die Europese lande en ook Brittanje se atlete.

♦ Suid-Afrikaanse atlete het ook op die IAAF se 2016-wêreldranglys besonder goed gevaar. Vier Suid-Afrikaanse atlete het die boonste vyf plekke in hulle items gehaal, nog drie is in die boonste tien en daar is ʼn verdere ses atlete met prestasies wat hulle in die boonste 20 in hulle dissiplines plaas.

Suid-Afrika se Olimpiese kampioene, Wayde van Niekerk en Caster Semenya, is albei eerste op die ranglys in die 400 m mans en die 800 m vroue onderskeidelik.

Die veelsydigheid van dié twee moet nie geringgeskat word nie.

Van Niekerk se onvergeetlike wêreldrekord van 43,3 sek op die Olimpiese Spele span die kroon maar hy is ook 15de op die wêreld se 200 m-lys met ʼn tyd van 20,02 sek. Hy het hierdie tyd in Junie in Durban tydens die Afrika-kampioenskap behaal.  In Maart vanjaar het hy 9,98 sek in die 100 m afgeblits wat hom 23ste ter wêreld plaas.

Semenya is eerste in die 800 m geplaas met haar tyd van 1:55,8 wat aan haar ʼn  nasionale rekord en ʼn Olimpiese goue medalje besorg het. Sy is 12de op die ranglys vir die 400 m wat sy in Brussel met 50,40 sek gewen het. Met die Afrika-kampioenskap het sy 4:01,99 oor die 1500 m gehardloop wat aan haar die titel én die 14de plek op die 2016-wêreldranglys besorg het.

Die verspringer, Luvo Manyonga, wat ʼn Olimpiese goue medalje net-net misgeloop het, is tweede op die ranglys met ʼn afstand van 8,48 m. Akani Simbine se nasionale 100 m rekord van 9,89 sek plaas hom vyfde op die ranglys.

Ander atlete wat in die boonste tien op die ranglys verskyn is Ruswahl Samaai in die sesde plek. Victor Hogan se afstand van 67,72 m in die skyfwerp plaas hom ook sesde, maar hy het positief vir ʼn verbode middel getoets. Hy is vir twee jaar geskors maar die saak word na appèl verder ondersoek.

Sunette Viljoen, die silwer medaljewenner op die Olimpiese Spele, se beste afstand vanjaar in die spiesgooi, 65,14 m, het haar agste op die lys geplaas.

SA-atlete in die boonste 20 van die IAAF se 2016-ranglys

Mans

  1. Wayde van Niekerk, 400 m (43,03 sek)
  2. Luvo Manyona, verspring (8,48 m)
  3. Akani Simbine, 100 m (9,89 sek)
  4. Ruswahl Samaai, verspring (8,38 m)
  5. Victor Hogan, skyfwerp (67,62 m)*
  6. Van Niekerk, 200 m (20,02 sek)
  7. LJ van Zyl, 400 m-hekkies (48,67 sek)
  8. Stefan Brits, verspring (8,22 m)
  9. Antonio Alkana, 110 m-hekkies (13,28 sek)
  10. Elroy Gelant, 5 000m (13:04,88)

Vroue
  1. Caster Semenya, 800 m (1:55,28)
8. Sunette Viljoen, spiesgooi (65,14 m)
12. Semenya, 400 m (50,40 sek)
12. Wenda Nel, 400 m-hekkies (54,47 sek)
14. Semenya, 1 500 m (4:01,99)
20. Lynique Prinsloo, verspring (6,78 m)
* onderhewig aan die uitslag van ʼn ondersoek na verbode middels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.