SA kan na 14 jaar weer met wêreld se beste atleet spog

Suid-Afrika kan oor net meer as twee weke die eerste keer sedert 2003 weer met die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) se Atleet van die Jaar spog.

Wayde van Niekerk – dalk Atleet van die Jaar (Foto Facebook sprinterzy.com)

Hestrie Cloete se hoogspringprestasies het haar toe die toekenning as die IAAF se vroueatleet van die jaar besorg. Nou is Wayde van Niekerk, wat pas in die VSA ʼn knieoperasie ondergaan het wat hom tot 12 maande van die baan kan hou, een van die finale drie benoemdes in die mansafdeling.

Die toekennings vir 2017 se beste atlete in die twee afdelings word op 24 Oktober in Monaco gemaak.

Die drie finaliste by die mans, wat gekies is uit ʼn kortlys van 10 wat sowat ʼn maand gelede bekend gemaak is, is (in alfabetiese volgorde) Mutaz Essa Barshim (Katar), Mo Farah (Brittanje) en Wayde van Niekerk (RSA).

Die drie vrouefinaliste is Almaz Ayana (Ethiopië), Ekaterini Stefanidi (Griekeland) en Nafissatou Thiam (België).

Nog twee Suid-Afrikaanse wêreldkampioene, Luvo Manyonga (verspring) en Caster Semenya (800 m) het egter nie die paal gehaal om onder  die finale drie benoem te word nie.

Van Niekerk moet ʼn sterk gunsteling wees om die toekenning te kry. Hy het vanjaar feitlik alles vermag wat op die atletiekbaan bereik kon word.

Hy het drie van die tien vinnigste tye vanjaar in die 400 m aangeteken; die vinnigste tyd nόg in die 300 m gehardloop, hoewel nie ʼn wêreldrekord is nie omdat die 300 m nie as ʼn amptelike nommer erken word nie; die 400 m op die Wêreldkampioenskappe by verlede jaar se Olimpiese goue medalje gevoeg en ook tweede in die 200 m gekom; die vinnigste tyd vanjaar in die 400 m gehardloop (43,62); die naasbeste tyd vanjaar in die 200 m aangeteken (19,84); en boonop die eerste atleet geword wat die 100 m onder 10 sekondes (9,94), die 200 onder 20 s (19,84) en die 400 onder 44 s kon hardloop.

Sy prestasie in die 300 m beteken hy het nou die legendariese Michael Johnson se beste tyd in die nommer ook verbeter nadat hy verlede jaar sy 400 m-wêreldrekord verbeter het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.