SA marathon-legende draf 160 km in sy agterplaas

Ryan Sandes het 100 myl in sy agterplaas gehardloop. Foto: Facebook.

As ultramarathon-atleet het Suid-Afrika se Ryan Sandes al met moordende terreine in woestyne, oerwoude en bergreekse klaargespeel. Die 37-jarige Sandes was onder meer eerste in The North Face 100 Australia-, die Racing the Planet Madagascar- en die Western States 100-wedloop, maar om 100 myl (160 km) in sy eie Kaapse agterplaas te hardloop was beslis een van die taaiste uitdagings van sy loopbaan.

Sandes het die roete van 110 m ’n ongelooflike 1 463 keer voltooi. Hy het die afstand in ’n tyd van 26 uur en 27 minute kafgedraf; met ander woorde, hy het vir langer as ’n dag – onverpoos – in sy agterplaas gehardloop.

’n Stel trappe het vir ’n ekstra uitdaging gesorg. Foto: Facebook.

Sy roete het ’n stel trappe ingesluit wat gesorg het dat hy ’n uiteindelike hoogte van 4 500 m – halfpad teen Everest op as hy nou in Nepal was – geklim het.

“Dit was baie moeiliker as wat ek aanvanklik gedink het en ek is deksels bly dit is verby,” het Sandes in ’n video-insetsel gesê.

“Ek is nie rêrig iemand wat in ’n tuin sal draf nie – ek hou maar van ooptes rondom my. Ek voel ek kan nou vir ’n week of so rus en vir eers nie enige tuindraffies van vyf kilometer aandurf nie.”

Volgens Sandes was die sielkundige uitdaging baie taaier as die fisieke tol op sy lyf; veral vir iemand wat aan vryheid gewoond is. Hy het byvoorbeeld onlangs vir 24 dae in die Himalaja-bergreeks gehardloop waar hy meer as 1 500 km in sy drafboekie aangeteken het.

“Wat my die meeste van die uitdaging geboei het, is die sielkundige stryd; hoe klop ’n mens daardie vervelige eentonigheid?”

Sy vrou en tweejarige seun het om die hele tyd ondersteun.

Hoe sy “normale” drafroetes lyk. Foto: Facebook.

“Vanessa het vir ’n waterpunt op die eetkamertafel gesorg, propvol Red Bull-energiedrankies, water en energiestafies. Dit was lekker om só ’n groot verskeidenheid te hê.”

“Maar dit was steeds een van die taaiste dinge wat ek nóg aangepak het.”

Sandes het Donderdagoggend om 01:15 weggespring en hy het sy laaste ronde Vrydag om om 03:43 voltooi. Hy het net af en toe gestop om ander drafklere aan te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.