SA marathon-liefling se boodskap van hoop

Gerda Steyn (Foto: Sibonelo Ngcobo/African News Agency/ANA)

Gerda Steyn, die befaamde Suid-Afrikaanse langafstandatleet, gaan nie toelaat dat die gevolge van die Covid-19-uitbreking haar onderkry nie.

“Teen hierdie tyd het julle nou almal die nuus gehoor dat vanjaar se Twee Oseane-marathon gekanselleer is, terwyl Covid-19 tot ’n nasionale ramp verklaar is,” het sy op haar amptelike Facebook-blad geskryf.

Steyn het verlede jaar die Suid-Afrikaanse langafstandwêreld aan haar voete gehad. Nie net het sy die Twee Oseane-marathon gewen nie, sy het ook die Comrades-rekord van Durban na Pietermaritzburg met meer as 10 minute verbeter.

Dan het sy ook gesorg dat die Suid-Afrikaanse vlag met trots in Amerika gewapper het toe sy die New York-marathon in ’n persoonlike beste tyd van 2:27:48 voltooi het. Sodoende het sy slegs die vyfde Suid-Afrikaanse vrou geword om die wedloop in ’n tyd vinniger as 2:30:00 klaar te maak.

Steyn skryf op Facebook dat buigsaamheid ’n belangrike eienskap vir ’n atleet in 2020 is.

“Dit is nie maklik om vir iets voor te berei wat tien teen een uitgestel sal word nie, maar ons moet na die groter prentjie kyk. Die rede waarom soveel wedlope gekanselleer word, is om onsself te beskerm; dit is baie belangriker as ’n enkele wedloop.

“Ek wil julle terselfdertyd aanmoedig om nooit die positiewe drawwersingesteldheid te laat vaar nie. Kom ons hou die negatiewe gedagtes so ver as moontlik weg; solank as wat ons toegelaat word om te hardloop, is daar hoop.”

Die Nedbank-atleet het aangedui dat sy gereeld ’n paar wenke sal deel om drawwers gemotiveerd te hou.

Haar eerste wenk:

“Moet nie ophou draf nie! Ons almal moet aanpassings maak, soos om byvoorbeeld die pad eerder in klein groepe as in jou gereelde groot groep aan te durf. Moet egter nie alleen gaan draf as jy onveilig voel nie.”

Sy het ook haar mededrawwers aangemoedig om hul gedagtes en wenke onder die hutsmerk #runcoronaoutoftown te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.