SA Olimpiese span kry lyf

Akani Simbine. Foto: Reg Caldecott.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het gister die voorlopige span aangekondig wat Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Tokio sal verteenwoordig.

Die nasionale 100 m-rekordhouer, Akani Simbine, sal die plaaslike atletiekaanslag op die goue medalje lei. Hy gaan op 10 Junie juis sy litte op die internasionale verhoog by die Diamantliga-byeenkoms in Italië losmaak.

Sy bekwame afrigter, Werner Prinsloo, sal toesien dat Simbine hom nie ooreis nie. Dit help veel ’n mens wen elke byeenkoms vooraf, maar arriveer sonder enige woema by die Spele.

Die 400 m-hekkiester, Wenda Nel, se internasionale veldtog begin volgende week in Nederland, terwyl sy ook saam met Simbine in Italië sal hardloop.

Wenda Nel. Foto: Reg Caldecott.

Die Tukkies-atleet verbeter met elke wedloop – sy het onlangs ’n byeenkoms in Pretoria met ’n tyd van 55,63 sekondes gewen. O ja, by dieselfde byeenkoms het sy haar beste tyd in die 400 m gehardloop: ’n Sterk lopie van 52,72 sekondes.

Sterre soos Wayde van Niekerk (400 m) en Caster Semenya (5 000 m) het nog tyd om vir die Spele te kwalifiseer.

Volgens Barry Hendricks (Saskok-president) is dit ’n voorreg om die eerste groep name bekend te maak – veral met al die onsekerheid wat die wêreldwye Covid-19-pandemie teweeggebring het.

“Baie geluk aan die spanlede. Jul pluk nou die vrugte van jul veerkragtigheid en harde werk en ons weet dat julle Suid-Afrika kan trots maak.”

Suid-Afrika se swemverteenwoordigers moet nog bekendgemaak word, maar verskeie swemmers het reeds vir die Spele gekwalifiseer, onder wie Tatjana Schoenmaker.

Schoenmaker is deesdae die goue meisie van Suid-Afrikaanse swem en Chad le Clos het juis vroeër tydens ’n insetsel op televisie gesê dat die jong Pretorianer van ’n podiumplek in Tokio verseker is.

  • Suid-Afrika se voorlopige Olimpiese span:

Atletiek: Akani Simbine, Clarence Munyai, Antonio Alkana, Cheswill Johnson, Ruswahl Samaai, Rocco van Rooyen, Jason van Rooyen, Stephan Mokoka, Desmond Mokgobu, Elroy Gelant, Wayne Snyman, 4×100 m-aflos (mans), 4×400 m-aflos (mans), Wenda Nel, Dominique Scott, Gerda Steyn en Irvette van Zyl.

Fietsry: Johan Spies, Charlene du Preez, David Maree, Daryl Impey, Ryan Gibbons, Nicholas Dlamini, Ashleigh Pasio-Moolman, Carla Oberholzer, Alan Hatherly, Candice Lill en Alex Limberg.

Sportklim: Erin Sterkenburg en Chris Cosser.

Gimnastiek: Caitlin Rooskrantz.

Hokkie (vroue): Quanita Bobbs, Erin Christie, Lisa Deetlefs, Lilian du Plessis, Nicole Erasmus, Tarryn Glasby, Robyn Johnson, Charne Maddocks, Lerato Mahole, Phumelela Mbande, Edith Molikoe, Kristen Paton, Tarryn Potts, Celia Seerane, Nomnikelo Veto en Onthatile Zulu.

Hokkie (mans): Erasmus Pieterse, Timothy Drummond, Austin Smith, Mohamed Mea, Matthew Guise-Brown, Jethro Eustice, Nduduzo Lembethe, Taine Paton, Nicholas Spooner, Clinton Panther, Samkelo Mvimbi, Abdud Cassiem, Mustaphaa Cassiem, Nqobile Ntuli, Keenan Horn en Tevin Kok.

Seiljagvaart: Alex Burger en Benjamin Daniel.

Branderplankry: Bianca Buitendach. Jordy Smith is tans in aksie by die Wêreldspele in El Salvador.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Sjoe, ek sou dink as jy die wereld rekordhouer in die 400m is, dat daar ‘n klein kansie sal wees dat jy outomaties sal kwalifiseer…… Al val jy uit in die uitdunne.
Ek meen, sover ons kan vasstel het daar nog niemand in die geskiedenis van die mensdom ‘n 400 so vinnig soos hy kon hardloop nie. Dis hoekom dit ‘n wereldrekord genoem word…. En jy kwalifiseer nie outomaties nie??? Eisch

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.