SA rekords spat in Doha vir Caster en Carina

Caster Semenya wen die 1500 m vir vroue by die Diamantliga-byeenkoms in Doha, Katar (4 Mei 2018) Foto: AP Photo/Kamran Jebreili

Die eerste van veertien Diamantliga-byeenkomste het Vrydagaand in Doha plaasgevind. Verskeie groot name was in die blokke en het nie teleurgestel nie. Twee Suid-Afrikaanse vroue het die kollig gesteel en splinternuwe SA rekords opgestel.

Carina Horn het in die 100 m vir vroue ʼn nuwe SA rekord daar gestel toe sy deur die elf sekondes-merk gebars het. Carina se nuwe SA rekord staan nou op 10.98 sekondes.

Een van die groot trekpleisters by die eerste byeenkoms was Caster Semenya wat in die 1500 m vir vroue ʼn tyd van onder vier minute aangeteken het. Caster het daarmee ook ʼn nuwe nasionale rekord en haar persoonlike beste tyd van 3:59.92 daar gestel.

Ander Suid-Afrikaners se prestasies:

Khotso Mokoena het 6de in die driesprong geëindig met ʼn sprong van 16.92 meter. Pedro Pichardo het meer as ʼn meter verder gespring en ʼn afstand van 17.95 meter aangeteken om die kompetisie te wen.

Pieter Conradie het in die 400 m sesde geëindig in ʼn tyd van 46.68 sekondes. Cornel Frederics het in die 400 m hekkies vir mans ʼn tyd van 50.03 sekondes daar gestel en 5de oor die wenstreep gedraf.

Katar se Mutaz Barshim het in die hoogspring die beste hoogte van seisoen aangeteken toe hy op 2.40 m oor die dwarslat geseil het. Barshim het ʼn merkwaardige seisoen in 2017 beleef toe hy as Wêreldkampioen, Diamantliga-kampioen en die IAAF se atleet van die jaar gekroon is. Hy was ook in 2017 onoorwonne in die hoogspring vir mans gewees.

Die volgende byeenkoms word aanstaande naweek die 12de Mei in Sjanghai aangebied.

Meer inligting is hier beskikbaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

rollie ·

SA rekord vir Carina maar sy kon net ‘n 5de plek behaal. Darem vir Schippers (een van die groot name) geklop.

rollie ·

Tawwe taak vir Carina. Drie deelnemers van Afrika (2 van Ivoorkus en 1 van Nigerie) het haar geklop so sy is nie eers onder die eerste drie voorste naellopers in Afrika nie. Boonop was al die Jaimakane nie daar nie en ook nie deelnemers van Amerika en Bahamas nie. Nog ‘n steil bultjie om uit te klim.

Yankee ·

Mutaz Barshim was nooit as Werelkampion aangewys nie. Die rekord staan nog steeds op 2.45 m.!!!

Alwyna ·

Daardie wêreldrekord van 10.49 sal nie sommer verbeter word nie. Sy het opkikkers gebruik, is nie uitgevang nie en dit het haar dood veroorsaaj!

Yankee ·

Genade, daar is tans 672 vroue wat die 100m onder 10.98 geharloop het.

rollie ·

Ja maar 10 iets lyk darem baie beter. Die wereldrekord is vrek vinnig vir ‘n vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.