SA se atlete presteer oorsee

Luvo Manyonga. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Talle van Suid-Afrika se atlete het die naweek uitstekend presteer by die Wêreldbeker-atletiekbyeenkoms in Londen sowel as die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se o.20-Wêreldkampioenskappe.

Die wêreldkampioen in verspring, Luvo Manyonga, het ʼn eerste plek behaal in Londen nadat hy sommer reeds met sy eerste poging 8.51 m ver gespring het en só die goue medalje verseker het. Manyonga het tydens sy ander pogings 8.48 m, 8.50 m en 8.50 m gespring.

Rikenette Steenkamp het ʼn uitstekende vertoning gelewer en goud in die 100 m-hekkies verower. Sy het die wenstreep in 12.88 sek. oorgesteek.

Sunette Viljoen. Foto: AP Photo/Dita Alangkara

Sunette Viljoen het ʼn goue medalje gewen in die spiesgooi. Die Olimpiese silwermedaljewenner het die eerste plek verseker met ʼn gooi van 61.69 m.

Luxolo Adams het ʼn silwermedalje verower nadat hy die 200 m in 20.24 sek. voltooi het terwyl Derrick Mokaleng silwer in die 400 m gekry het.

Victor Hogan het ʼn tweede plek in die diskusgooi gekry met sy beste poging van 63.73 m. Carina Horn was derde in die 100 m terwyl Simon Magakwe brons gekry het in die 100 m. Die mans 4×100 m-aflosspan van Magakwe, Adams, Antonio Alkana en Roscoe Engel het derde geëindig in 38.53 sek.

By die IAAF se o.20-Wêreldkampioenskappe het Sokwakhana Zazini goud gewen in die 400 m-hekkies. Kyle Blignaut het die gewigstoot gewen en sy vroue-eweknie Zeney van der Walt het ook goud gewen. Breyton Poole was derde in die hoogspring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ann ·

Zeney van der Walt het ook die 400 m hekkies gewen. Sy is dus eintlik Sokwakhana Zanzini se vroue-eweknie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.